Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Knopskopboeremusiek in Paarl

Knopskopboeremusiek in Paarl
 
2006-07-20


DJ OSSEWA is ’n opwindende manne-band wat saamsingkroegmusiek en sokkiedansvreugdes maak: pittig en stuitig, stout en prettig. Daar’s boeremusiek in die kies en rock in die tong.

Môreaand is hulle by die Oukraal vermaaklikheidsentrum (ou Keurfontein) in Noorder-Paarl. Die deure open om 19:30 en die vertoning begin om 20:30.

DJ Ossewa bestaan uit vyf lede - Daniel Jakobus Ossewa, Marula Boom, Piet Pompies, Jerbes die Leeuboer en Raapie Knapie Ossewa.

Almal behalwe Jerbes woon en werk saam op die plaas Ossewasrust.

Dis nou Ouma Beskuit se plaas. Sy word so genoem, nie omdat sy ’n swak maag het nie, maar wel omdat sy ’n plaaspadstalletjie het wat die lekkerste tuisgebak in die kontrei verkoop.

Raapie Knapie en Daniel Jakobus is Ouma Beskuit en Oupa Ossewa se kleinkinders. Piet Pompies is Raapie en Daniel se neef en bly ook op die plaas.

Marula het net daar op die plaas opgedaag en weet self nie regtig wie hy is nie; wat nog van wie sy familie is.

Jerbes boer met leeus op die plaas langsaan, maar “boer” meer hier op Ossewasrust sodat hy saam met die manne kan musiek maak.
DJ Ossewa kry dit reg om alternatiewe styl en tradisionele boeremusiek in een kooi te laat vroetel.

Die resultaat is ’n klank wat dié progressiewe groep as “knopskopboeremusiek” beskryf.

En daar gaan gedans word. Spits die ore vir die snitte Stadig, Plaasjapiedans, Vrystaat Mamba, Honderd Bewonderd, Sokkiejol, Met Eish én instrumentale sweettapsnitte.

Kaartjies is R50 en snoepmandjies is beskikbaar.
Navrae by Banie (084-321-1567) of Anton (084-331-1772).



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za