Op sy knoppie kan jy druk
2006-07-20
AGTER elke ma staan ’n raakvat-seun. Of dit is hoe Esmerelda Meyer, gemeenskapswerker en gereelde aanbieder by Radio KC, waarskynlik oor haar seun, Kyle, voel.
Min van haar gereelde luisteraars weet dat die 11-jarige Kyle die tegniese aspek van sy ma se program vir bejaardes en siekes elke Sondag tussen 14:00 en 15:00, hanteer.
“Dit het begin nadat my gereelde klankingenieur nie meer my program kon behartig nie,” vertel Esmerelda.
“Aangesien my seun goed is met rekenaars het ek gedink dat dit nie ’n slegte idee is vir hom om my te help nie, dan kry ek en hy ook sommer tyd om kwaliteit tyd saam te bestee.”
So gemaak, en met die nodige opleiding, het Kyle sommer gou al die knoppies baasgeraak.
Kyle is die jongste klankingenieur by die stasie wat hoofsaaklik deur vrywilligers beman word.
As dinge vlot verloop, beoog hierdie skrander leerder van Paarlzicht Primêr om eersdaags ook die jongste aanbieder van sy eie program te wees.
“Ons is baie trots op Kyle en wens Esmerelda geluk met die inisiatief om haar seun al van jongs af bloot te stel aan gemeenskapswerk,” sê Ron Morris, uitvoerende hoof van Radio KC.
“Kyle is ’n sprekende voorbeeld van hoe Radio KC poog om radio toeganklik te maak vir almal.
Radio KC saai uit op 107.7FM en vier op Erfenisdag sy tiende bestaansjaar.
More
News
|