Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Cultivaria, grootste fees nog in Paarl

Cultivaria, grootste fees nog in Paarl
 
2006-07-20


CULTIVARIA: dit is die naam van Paarl se eie kultuurfees wat oor die langnaweek van 21 tot 25 September aangebied word met ‘n mengsel van plesier, kultuur en avontuur.

Hierdie “fees met finesse” bied meer as 100 opvoerings oor vier dae en kan nog die KKNK verbysteek in gewildheid, meen kenners. Kaartjiebesprekings het reeds geopen.

Dit skop op Donderdagaand 21 September af met ‘n Popkonsert by die Hoërskool Gimnasium, en ‘n dinee aan die langste aandete-tafel in die wêreld in die Paarlse Hoofstraat, saam met bekendes soos Shalene Surtie-Richards.

Die Vrydag is daar konserte deur Laurika Rauch, Anna Davel, Mel Botes, Chris Chameleon, Dozi en Mathys Roets.

Die Jonny Cooper Big Band speel in die stadsaal, Leon Ecroignard tree op in “Man” by Laerskool La Rochelle en die Kaapse Stadsballet voer “Swingtime at the Ballet” op in die FNB saal (HJS).

In die Toringkerk word die ou rolprent “Hunchback of Notre Dame” om 20:30 vertoon met geïmproviseerde orrelbegeleiding deur Zorada Temmingh.

Die Bee Gees se musiek herlewe in “Bee Gees Immortality”, met Paul Buckby, Mark Richardson en Luziano Zuppa.

Die Saterdag is behoorlik woelig. Die teaterplanke gaan kraak wanneer Dot Serfontein (die gewilde Marga van Rooy) vertel oor die Vrystaat, soos net die ma van Antjie Krog kan (Gim ouditorium).

Marion Holm skerts oor “Braaivleis, Rugby Sunny skies en Sussie” en in die toneelstuk Art of Charf neem Elize Cawood en Wilson Dunster jou van trane tot lê soos jy lag.

In die bittersoet stuk “Die Tafel” tree Pedro Kruger, Marion Holm en Schalk van der Merwe op, en in “A Man and his Dog” is Nhlanhla Mavundla aan die woord.

Dan is daar ook musiekkonserte met bekendes soos Kevin Leo, Coenie de Villiers en Theuns Jordaan.

Freddie Mercury herleef in “Queen”, soos uitgevoer deur Joseph Clarke en orkes (Gim).

In ‘n jeugwerkwinkel sal Egoli sterre Brumilda van Rensburg en Hannes van Wyk wenke gee vir voornemende akteurs. En vir kopkrap oor ‘n paar kulkunsies, is Wolfgang Riebe die kunstenaar by die polisiekollege.

Die Garden & Home Sundowner skemeronthaal op Seidelberg begin die middag om 18:00 met Paul Buckby as gaskunstenaar en ‘n diamant-juwelierstuk as prys.

Die Sondag word die Mozart Requiem in die stadsaal opgevoer ter nagedagtenis van die tenoor Deon van der Walt. Dit word uitgevoer deur die Tygerberg Stadskoor en Canticum Novum saam met die US Simfonie-orkes onder leiding van Louis van der Watt.

Verskeie kunstenaars is te sien in Lyf (Pedro Kruger), Tydloos (sangers Jannie Moolman, Andr‚ Schwarts, Rina Hguo en Arina de Witt), die stoute Pleiboyz, die komedie Two to Tango (Bo Petersen en Bruce Young) en Rooi Rose se Kerskonsert, waar ‘n DVD opname gemaak word.

Om 19:00 is dit tyd vir die Cultivaria Gospel Show soos geen ander, met kunstenaars soos Jan de Wet, Freda Francis, Johan Els, Annelise Wiid en ander by die polisiekollege.

Die Maandag (Erfenisdag) tel konserte deur DNA Strings en David Kramer onder die hoogtepunte. Daar is ook ‘n Rooi Rose-lesersontbyt en woordkuns in die koffiekroeg by La Rochelle.

Tussenin is daar hope pret by die Gourmet Food Emporium in die Faurestraat stadion, asook geskiedenistoere en besoeke aan wyn- en kunsroetes, met die kunstenaars self teenwoordig.

Die kinders word vermaak deur ‘n rits kinderproduksies by Safari Kinderteater (La Rochelle Hoërskool) met sirkusvertonings, narre en kunshandwerk. Maandag is daar ‘n talentkompetisie om 14:00, sodat ons kan besluit watter een van mamma se oogappels nou eintlik die een is om dop te hou.

Die volle program is te sien op www.cultivaria.com met besprekings by info@cultivaria. com of deur 872-9754 te skakel.

Die fees word gesteun deur die Drakenstein stadsraad.

Feesdirekteur Gerhard Meyer word gesteun deur beskermhere burgemeester Charmaine Manuel, onderburgemeester Jackie Noland, die munisipale bestuurder (dr Sidima Kabanyane), dr Willem Barnard (KWV), Pieter Stofberg (Pioneer Foods), Charl Sandenbergh (FNB), Uys van der Hoven, Lambert Retief (Paarl Media) en Timothy Ndzuzo, met akteur Hennie Smit as konsultant.

* The Cultivaria festival, to be held in Paarl at the end of September, is expected to grow to rival arts festivals like the KKNK in Oudtshoorn.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za