Jong ma vermoor
2006-07-20
DIE moeder van twee jong seuntjies is verlede week onder geheimsinnige omstandighede dood gevind.
Die liggaam van Anneline Wildschut (29) is Donderdagoggend in die bosse naby die plaas Sandrivier, langs die pad na Malmesbury, gevind.
Anneline, van Nelsonstraat in Vanwyksvlei, Wellington, het Woensdagaand vir haar man gesê dat sy ’n oproep by ’n telefoonhokkie moet gaan maak. Die hokkie is ongeveer 500m van hulle huis af in ’n beboude gebied.
Sy is by die huis weg sonder om ooit weer terug te keer. Na ’n paar uur het haar man, Daniel, bekommerd begin raak en die polisie se hulp is ingeroep.
’n Intensiewe soektog het gevolg, maar daar was geen teken van Anneline nie.
Die volgende dag is haar lyk deur ’n buurman wat onderweg was na Malmesbury, by Sandrivier gevind.
Anneline het gesterf weens versmoring. Daar was geen ander tekens van geweld nie. Sy was ten volle geklee en net haar troupant word vermis.
Daar word vermoed dat haar liggaam eers ná haar dood by Sandrivier afgelaai is.
Daniel, ’n brandweerman, het hartseer gesê dat hy glad nie kan verstaan dat iemand vir Anneline sou wou leed aandoen nie.
“Sy was so ’n saggeaarde mens dat ek glad nie haar dood kan verstaan nie. Nou moet ons twee seuns, Angel (20 maande) en Emerald (drie maande) sonder ’n moeder groot word.”
Anneline se begrafnis vind Saterdag om 08:30 plaas met ’n vrouebiduur by Bontebokstraat 19c, Chicago, en daarna om 09:30 vanuit die Ware Evangeliese Kerk in Amstelhof.
Diegene wat enige inligting in verband met die voorval het, kan vir insp Auckland Losper skakel by 807-4000.
* The mother of two young children, has been murdered.
More
News
|