Wynboer in sop oor sekskat
2006-07-20
DIE Bovlei is nie meer wat dit was nie, meen boere en bure op plase in die skadu van Bainskloof.
Die grondpaaie word slaggat gery nadat ’n stroom buitelanders, én binnelanders uit die noordprovinsies, stukke van die vrugbare Bovlei aarde geannekseer het en die bevolking vervierdubbel het.
Verlede maand was daar ’n hot-en-haar geslepery van besittings agter ’n trekker aan - die aardse goedere van ’n man en sy vrou wat glo onwettig op ’n plaas geplak het.
Hulle was toe ook nie welkom op Die Gawe, die kleinhoewe van die buurman vir wie die hawelose man werk, nie. En so is sy besittings weer teruggesleep, dwarsdeur ’n plaas se drade.
Twee weke later het ’n gekuier in die Bovlei handuit geruk toe werkers die bottels om ’n braai op die plaas Naby gesien het, en wou saamdoen.
Een werker het aan alkoholvergiftiging gesterf en vier het by die dood omgedraai nadat hulle op ’n leë maag wou wys “hoe ons soos die baas die brandewyn kan wegslaan”.
En toe kom die prostituut uit die Kaap daar ingetrippel.
Die polisie het die aand reageer op ’n noodroep na die Spruitrivier-woonkompleks in Bainstraat.
Toe hulle daar aankom, is die deur oopgemaak deur ’n man in winterfrokkie en sweetpakbroek, sy mond rooi besmeer met lipstiffie.
Dit was Andrew Pratt (58), mede-eienaar van die wynplaas Siyabonga (voorheen Klein Doolhof) in die Bovlei.
Al protesterend agter hom dié aand, was Carmen (23), ’n wulpse sekswerker met bloesie, kaal magie en swart leerrompie.
En al keffend om die twee se bene, was ’n wit-bruin troetelhondjie.
“Van ver gekyk, was dit ’n vrou wat ons laat kom het,” het die polisie later gesê.
“Maar van naby, was iets nie pluis nie. Die stem was hoog, maar daar was baardstoppels onder die grimering en senings onder die visnet kouse.”
Pratt het glo die prostituut oor die internet bestel. Daar is glo onderhandel oor die fooi (wat van R5 000 tot R3 000 afgekibbel is).
Daar is ook ooreengekom oor ’n trefpunt, in veiligheid voor die Wellingtonse polisiestasie.
By Pratt se huis het die tweetjies saam ’n seksfilm gekyk en dit was glo toe daar “vatterig” geraak word, dat die kliënt besef sy katjie is eintlik ’n ramkat.
Pratt wou sy geld terughê, maar die transvestiet wou nie byt nie. In die advertensie kon Pratt mos sien waarvoor hy hom inlaat. Sy kan mos nie droëbek huis toe gaan nie.
Dis op hierdie tydstip dat die polisie besef het hier mors hulle nou ook hulle tyd. Die oor en weer geskel gaan nie op ’n messtekery uitloop nie.
Die polisie was skaars weg, toe Carmen besluit sy roer nie. Later het sy vertel dit was enersyds omdat Pratt bereid was om haar te aanvaar soos sy is, en andersyds omdat die kwessie van betaling vir dienslewering (al dan nie) moes opgeklaar word.
So kon die storie ’n gelukkige einde hê, was dit nie vir die vlieg in die salf nie - die tjek wat die volgende dag deur Carmen se bank geweier is weens die datum (31/06/06) daarop.
Hoe dan nou? Die naam van Pratt se plaas is dan Siyabonga (Xhosa vir “met dank”).
So word daar skandes gemaak in die vrugbare Bovlei, waar nie net huiskatte rondloop nie, maar ook luiperds rondsluip.
* Wellington famers are dumbfounded by the latest scandal in the Bovlei, the sex escapades of a winemaker.
More
News
|