Matie opedag om die draai
2006-07-20
DIE immergewilde Opedag van die Universiteit Stellenbosch (US), waarheen voornemende Maties en hul ouers stroom om nommerpas inligting in te win oor studierigtings, toelatingsvereistes, verblyf en finansies, vind vanjaar op Woensdag 2 Augustus plaas.
Die Opedag, wat spesifiek fokus op studieleiding vir graad 11 en 12 leerders, vind vanjaar weer in en om die Langenhoven Studentesentrum (oftewel die Neelsie) plaas, van 09:00 tot 17:00. Toegang is gratis.
Kampustoere sal al om die uur aangebied word vanaf die Studenteraadstalletjie, terwyl al die koshuise ook oop vir besoekers sal wees. Gratis beroepsassessering sal ook beskikbaar wees.
Verlede jaar het meer as 5000 mense van regoor Suider-Afrika die 90 verskillende informasiestalletjies van die US se fakulteite, departemente, verenigings en steundienste besoek om meer uit te vind oor hoe om ‘n Matie te word.
Inligtingstalletjies oor privaatakkommodasie, dienste vir gestremde studente en finansiële opsies vir behoeftige voornemende studente sal ook beskikbaar wees.
Vanjaar sal ander opleidingsinstansies wat op Stellenbosch gebaseer is, soos Elsenburg Landboukollege, Southern Right Vliegskool, Stellenbosch Rugby Akademie, Boland Kollege en die Exercise Teachers’ Academy, ook stalletjies beman.
Vir navrae, kontak Lorna Bartlett of Maylene Cornelissen by 808-4709 of 808-2923.
More
News
|