Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gimmie lei SA Skolespan

Gimmie lei SA Skolespan
 
2006-07-20


HOEWEL die WP se o.18 rugbyspan ’n onoortuigende vertoning tydens die onlangse Coca-Cola Cravenweek gelewer het, het hulle dit op ’n hoogtepunt afgesluit deur die Valke 87-0 te vernietig.

Om die kroon te span op dié vertoning is die WP se kaptein en leerder van Paarl Gimnasium, Jéan Rossouw, as die kaptein van die SA Skole A-span aangewys.

Die WP het in sy eerste twee wedstryde teen die Vrystaat en die Pumas onderskeidelik 22-21 en 27-19 verloor.

In die laaste wedstryd was dit egter ’n ander storie. Die WP het reeds teen rustyd 31-0 voorgeloop danksy vyf drieë deur die flanke, Siyasanga Mkiva en Morné Hanekom (Hoër Landbouskool Boland), haker CG Stoumann (Boland Landbou), vleuel Bongani Mvumvu en die agsteman, Nick Koster.

Die losskakel, Coenie van Wyk, het met drie doelskoppe geslaag.
Die WP het in die tweede helfte sy stewige pak goed gebruik om die spel te oorheers.

Die losvoorspelers was in ’n verwoestende bui en het telkens met stormlopies van die vaste en los fasette gate in die Valke se verdediging geslaan.

Hulle het goed met die agterspelers gekombineer om so punte aan te teken.

Verdere drieë is deur die vleuel, Dewaldt Duvenage (2, Paarl Gim), Mikiva, stut en kaptein Jéan Rossouw (Paarl Gim), vleuel Charl van Vollenhoven, Hanekom, heelagter Stephan van der Merwe en skrumskakel Clayton Stewart gedruk.

Van Wyk het met ’n verdere sewe doelskoppe geslaag om ’n puntetotaal van 20 vir die wedstryd aan te teken. Stewart het sy eie drie verdoel om die 87 punte vol te maak.

Dit was die grootste punteverskil in ’n wedstryd tydens vanjaar se Cravenweek toernooi.

Die vorige rekord vir die grootste punteverskil is die Donderdag opgestel toe die Griekwas vir Grens Platteland 75-0 geklop het.

Benewens Rossouw is die Boishaaier, Yaazier Hartzenberg, ook in die SA Skole A-span opgeneem. Hartzenberg wat gewoonlik as slot op die veld draf, is in die posisie van flank verkies.

Die SA Skole A-span sal Saterdag in Bloemfontein teen ’n o.18 span van Italië te staan kom.

Juan de Jongh (senter) van Wellington en CG Stoumann van Boland Landbou is in die SA Skole B-span opgeneem.

De Jongh het verlede jaar aan die Hoërskool Hugenote gematrikuleer. Hy studeer tans sportbestuur by die Stellenbosch Rugby Instituut, maar omdat hy eers in April vanjaar 18 geword het, was hy vir die Boland Cravenweek-span verkiesbaar.

Die B-span sal op 28 Julie met die Italianers kragte meet.

Nog ’n Gimmie, Johan Sadie, is in die SA Akademie-span opgeneem wat aan ’n toernooi in Marokko gaan deelneem.

Twee Boland Landbouers, Burger Schoeman en Johan Coetzee, is ook tot dié span verkies.

Die Boland Cravenweek span het twee van sy drie wedstryde gewen.
Boland het eers 28-13 teen die Vrystaat verloor en daarna die Limpopo (40-20) en die Luiperds (36-17) geklop.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za