Sewe sterf in taxi-ongeluk
2006-07-27
TWEE verliefdes is Vrydagmiddag saam in ’n gru-ongeluk dood, enkele ure voordat hulle verloof sou geraak het.
Arnold Riffel (30), van Franschhoek, het Vrydagoggend vir sy pa, Adam, gesê dat hy Paarl toe gaan om ’n verloofring te koop, en daarna sou hy sy vriendin, Ferosa Smal (22), terugbring huis toe en vir haar vra om te trou.
Dit is die laaste keer dat Adam en sy vrou Susanna hul seun lewend gesien het. Terwyl hulle met groot opgewondenheid op die paartjie gewag het, het hulle egter die doodstyding gekry.
Die taxi waarin Arnold en Ferosa onderweg was na Franschhoek, was om 14:30 tydens swaar reën in ’n kop-aan-kop botsing betrokke met ’n vragmotor naby die ou Simondium wynkelder.
Volgens ooggetuies het ’n vragmotor wat in die rigting van die Paarl gery het, uitgeswaai vir ’n ander voertuig en die taxi reg van voor getref.
Ses insittendes van die taxi is op slag dood, een is later dood, en nog ses passasiers is ernstig beseer.
Talle nuuskieriges het op die ongelukstoneel toegesak en verbysterd gekyk hoe die reddingsdienste vir ure gespook het om die oorledenes uit die wrak van die taxi te sny.
Die toneel is teen 17:00 die middag opgeruim.
’n Geskokte pendelaar wat op die toneel was, het verdwaas gesê dat dit vir hulle ’n dobbelspel is elke keer as hulle in ’n taxi klim.
“Daar is geen ander manier van vervoer vir ons nie - ons maak staat op die taxi’s om vir ons by die werk te kry en dan weer tuis.
“Maar kyk net hoeveel mense is dood in een ongeluk. Ek kan nie help om te dink wanneer dit my beurt gaan wees nie.”
Die ander oorledenes is André Natus (49), Charlene Daniels (25), Christina Snyders (23) en die bestuurder van die taxi, MG Buso, wat ook op die toneel dood is.
Nog ’n beseerde, Willem Johnson, is Sondag in die Paarl Hospitaal aan sy beserings oorlede.
’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
* Die bestuurder van ’n luukse 4x4-voertuig het Saterdagmiddag op Jan van Riebeeckrylaan naby Mbekweni beheer oor die voertuig verloor en by ’n helling afgery. Annemarie en Alwyn Janse van Vuuren van Piketberg, en hul sewejarige dogter Nadine, het ligte beserings opgedoen.
* Drie mense van die Noord-Kaap het Saterdagmiddag ’n noue ontkoming gehad toe hul voertuig sowat twintig meter ver by Dutoitskloofpas afgestort het.
More
News
|