Boland Craven-span doen goed ondanks skraal seisoen
2006-07-27
ONDANKS ’n gebrek aan diepte het die Boland-span vanjaar ’n goeie vertoning gelewer tydens die Coca-Cola o.18 Cravenweek wat tydens die skoolvakansie in Johannesburg gehou is.
Hoewel die Boland sy eerste wedstryd teen die Vrystaat 28-13 verloor het, het hy daarna vergoed met seges oor Limpopo (40-20) en die Luiperds (36-17).
Een van die redes vir die span se sukses was hul talentvolle losskakel, Hendrik de Villiers.
De Villiers was die naashoogste puntemaker van die toernooi met ’n totaal van 49 punte.
Hy het veral die oog gevang in die wedstryd teen Limpopo waar hy 25 (twee drieë, drie strafdoele en drie doelskoppe) van sy span se 40 punte aangeteken het.
In die laaste wedstryd het hy ’n verdere 16 punte aangeteken, danksy ’n drie, vier doelskoppe en ’n strafskop.
De Villiers sal beslis een van die staatmakers in Hugenote se eerste span wees wanneer dié skool op 12 Augustus tydens hul interskole-kragmeting teen Hoërskool Swartland te staan kom.
Volgens die hulpafrigter van die Boland-span, Lyndon Manas, was die kwaliteitrugby by vanjaar se toernooi beter as in 2005.
“Die tempo van die wedstryde was hoër en die algehele kwaliteit van die spel was beter,” het Manas gesê. Hy het ook die spel van De Villiers en die senter, Juan de Jongh, geprys.
“Henk se skopvoet het baie vir ons beteken, terwyl Juan ’n baie goeie spelskepper was met sy fantastiese voetwerk, hantering en goeie besluitneming.”
Hy het egter bygevoeg dat die span as ’n geheel baie goed saamgespeel het, en goeie karakter getoon het.
Hy het beaam dat die oes van plaaslike Boland-spelers uit tradisionele bronne soos die Paarlse skole Klein Nederburg Sekondêr, New Orleans Sekondêr en Paulus Joubert Sekondêr maar yl was, maar dat die hoeveelheid spelers wat dié skole in die Boland o.16-span het, ’n bloeityd vir die volgende twee jaar voorspel.
Athol Ontong, afrigter van die Boland o.16 Grant Khomo-span, het beaam dat die Boland bo verwagting goed gedoen het.
Volgens hom is daar net agt spelers oor van die 22 spelers wat in verlede jaar se Boland o.16-span gespeel het.
“Baie van die spelers word na ander skole in die noorde weggelok. “In die verlede was geld die probleem, maar met Fidentia wat nou die Boland borg, sal die Unie die finansiële rugsteun hê om spelers te oortuig om hier te bly,” het Ontong gesê.
More
News
|