Wellington Kelder blink uit
2006-07-27
DIE Hildenbrand wynlandgoed op Wellington se 2005 Chenin Blanc het aandag getrek in die eerste SA Terroir Wyntoekenning.
Die Hildenbrand Chenin Blanc 2005 was een van twaalf wyne met ‘n oorsprong uit agt verskillende wynbougebiede in die Kaapse wynland wat nasionale sertifikate ontvang het.
Slegs ‘n gesertifiseerde Wyn van Oorsprong gemaak van druiwe van ‘n spesifieke wyk (kleiner area binne ‘n distrik), landgoed of wingerdblok, het vir die kompetisie gekwalifiseer.
Terroir is die internasionale term vir ‘n spesifieke wynbou-terrein.
Hierdie kompetisie is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en waarskynlik die eerste van sy soort in die wêreld.
Die nasionale sertifikate vir die top wyn van ‘n spesifieke kultivar is benewens Hildenbrand Chenin Blanc 2005 (Wellington), ook toegeken aan Meerendal Pinotage 2004 (Durbanville), Hartenberg Cabernet Sauvignon 2003 (Stellenbosch/Bottelary), Koelfontein Chardonnay 2004 (Ceres), Hamilton Russell Pinot Noir 2004 (Walker Bay), Bergsig Touriga Nacional 2005 (Breedekloof), Bloemendal Sauvignon Blanc 2005 (Durbanville), Steenberg Merlot 2004 (Constantia) en Bon Courage Shiraz Inkara 2004 (Robertson).
Die wenwyne in die Paarl Distrik se Terroir Toekennings was benewens Hildenbrand Chenin Blanc 2005, die Doolhof Sauvignon Blanc 2006 (ook die top wit in die Wellington/Voor-Perdebergstreek), Seidelberg Rolands Reserve Cabernet Sauvignon 2003 en Nelson Estate Shiraz 2002. In die Wellington/Voor-Perdeberg Wyk was Wamakersvallei La Cave Pinotage 2004 die top rooiwyn.
Die nasionale wenners was Bon Courage Landgoed in Robertson (Shiraz en gefortifiseerde dessertwyn), Steenberg Wingerde in Constantia (beste rooi versnit en beste merlot) en Bloemendal Landgoed in Durbanville (beste sauvignon blanc en algehele wenner). Die Lord Neethling Weisser Riesling Edel Laatoes 2005 (Stellenbosch, Neethlingshof) wen die nasionale sertifikaat vir die Top Natuurlike Soetwyn.
Die drie wyne wat die hoogste gemiddelde punte uit al die inskrywings behaal het, is die Bloemendal Sauvignon Blanc 2005, Avondrood Sauvignon Blanc 2006 (Goudini) en Steenberg Merlot 2004.
Die 151 wyne van al die prima wynbougebiede wat beoordeel was, is ‘n werklike uitbeelding van die terroir waar die wingerde verbou word om die vlagskip en reserwe reeks wyne te produseer wat vir die premium en ultra-premium markte bedoel is.
Al die wyne is blind geproe by Elsenburg Landboukollege en die paneel het bestaan uit fynproewers met jare se ervaring van al die wyne uit die verskillende distrikte.
More
News
|