Garden Stars speel gelykop
2006-07-27
DIE eerste span van Young Gardens het hom Saterdag op sy tuisveld teen ’n begeesterde Young Stars vasgeloop.
Die besoekers het van die begin af die Gardens-verdediging laat bontstaan, met hul aanvallende hardlooplyne waarin die voor- en agterspelers goed gekombineer het.
Was dit nie vir Gardens se hegte, aggressiewe verdediging nie, sou die telling van 10-10 heelwat anders uitgesien het.
Gardens druk die eerste drie, ná ’n goed uitgewerkte agterlynbeweging, met die heelagter, David Philander, wat oor in die hoek oorduik.
Kort voor rustyd antwoord Young Stars met ’n verdoelde drie om die halftydtelling 7-5 te maak.
In die tweede helfte het albei spanne kanse verbrou om punte aan te teken.
Die besoekers behaal ’n strafskop om hul 10 punte vol te maak, terwyl Philander sy tweede drie druk nadat hy ’n taktiese skop van die losskakel, Davey de Kock, opvolg.
Ander spelers wat vir die tuisspan uitgeblink het, was Christopher Williams (agsteman) en die haker, Rowan Fortuin.
Gardens II en III wen 41-3 en 66-10.
Gardens speel Saterdag weg teen Caledonian Roses en die bus vertrek om 12:00.
More
News
|