Pniel Villagers val vas
2006-07-27
IN ’n baie spannende wedstryd, waar die uitslag tot aan die einde in die weegskaal was, het die huidige voorlopers in die WP se Superliga B-kompetisie, Durbanville/Bellville, Saterdag vir Pniel Villagers 11-8 geklop.
Die nederlaag was vir die besoekers ’n bitter pil om te sluk aangesien hulle werklik alles in die stryd gewerp het met die hoop op ’n oorwinning.
As in ag geneem word dat Villagers vir die grootste gedeelte van die wedstryd gebiedsvoordeel geniet het en hul verdediging van topgehalte was, is hul teleurstelling te verstane.
Die wedstryd was uiters taai en ’n goeie vertoonvenster vir gesonde klubrugby aangesien dit in ’n goeie gees gespeel is, met geen insidente nie.
Die twee pakke voorspelers het goed teen mekaar opgeweeg, met geeneen wat die ander kon oorheers nie.
Die besoekers het in die tweede helfte die voordeel van ’n sterk wind in hulle blaaie gehad, maar kon dit nie tot hulle voordeel gebruik nie. Hulle het verkies om eerder met hardlooprugby veld te wen, maar telkens teen die vreeslose verdediging van die tuisspan vasgeloop.
Nog verkeerde opsies en ’n verlies aan goeie lynstaanbesit waarvan aanvalle geloods kon word, het ook die Pniel-manne se sake bemoeilik.
Vir Pniel het Manwill Hoofman in die vyfde minuut ’n onverdoelde drie gedruk terwyl Stefanus Cedras met ’n strafdoel geslaag het om die rustydtelling 8-8 te maak.
Cedras was in die tweede helfte weer in die kol met ’n strafdoel. Wayne Mansfield is as Pniel se speler van die wedstryd aangewys. Pniel Villagers behou egter die tweede plek op die punteleer.
More
News
|