Vlok laat haar nie stuit
2006-07-27
TEN spyte van ’n kniebesering wat haar verhoed het om aan die laaste wedstryd van die Interprovinsiale Muurbaltoernooi deel te neem, is ’n jong Paarliet as die Suid-Afrikaanse o.16 muurbalkampioen gekroon.
Lizane Vlok van Paarl Muurbalklub en leerder van Hoërskool La Rochelle het dié titel onlangs in Port Elizabeth ingepalm.
Vlok wat vir die Boland gespeel het, het die sewe wedstryde teen Noord-Gauteng (3-0), KwaZulu-Natal (3-1), Grens (3-1), OP (3-0), Oos-Gauteng (3-0), WP (3-0) en Gauteng (3-0) gewen.
Inflammasie in die spier langs haar knie het egter verhoed dat sy in die laaste wedstryd teen Leandri Sieberhagen van Vrystaat te staan kom.
Vlok is in die SA-span opgeneem aangesien sy vroeër vanjaar Sieberhagen in ’n SA kwalifiserende wedstryd 3-0 gewen het, en omdat sy die tweede, derde en vierde gekeurde spelers in die land (Noord-Gauteng, Grens en KZN) tydens die toernooi geklop het.
Die SA-span neem in die Desember-skoolvakansie aan die Skotse en Britse Ope deel.
Welman Bartleman van Hoër Jongenskool Paarl was deel van die seuns o.14 Boland-span wat op Stellenbosch aan die Interprovinsiale Toernooi deelgeneem het.
Boland het algeheel tweede in die B-afdeling geëindig en so ’n silwermedaljes verower.
Die Paarl Muurbalklub is op 19 en 20 Julie deur ’n junior toergroep van Amerika besoek. Dié spelers het teen junior lede van die Paarl-klub kragte gemeet.
More
News
|