Albions lyk beter teen Strand
2006-07-27
DIE terugkeer van ’n paar beseerde spelers het Saterdag vir Albions Rugbyklub gehelp om weer op die wenpad te kom.
Die insluiting van Ashley Manuel (heelagter) en Roderick Allies (slot) wat albei herstel het van beserings, het die Paarliete gehelp om Strand Rugbyklub met 23-3 te klop.
Albions het oorheers in beide die voor- en agterspelerspel.
Dominic Daniels het die Paarliete se rekening eerste geopen met ’n strafdoel.
Strand se besit in die lynstane is telkens beduiwel danksy die lang vingers van Alfredo ‘Hande’ Adams wat menige bal gesteel het.
Adams was ook ’n groot aanwins in die los fasette van die spel.
Albions loop rustyd 8-0 voor nadat Elrico Pietersen (linkervleuel) gaan druk het.
Die reën wat halfpad deur die wedstryd uitgesak het, het nie die Paarliete se ritme versteur nie, inteendeel hulle het juis beter vertoon.
Onder die voorspelers het Conrey Pieters (flank) goed die bal gejag, terwyl die stut, Jaco Fortuin, hom ook goed van sy taak gekwyt het.
Manuel is beloon met ’n drie, nadat die skrumskakel, Evan Prins, om die steelkant van die skrum speel, en vir Manuel wegstuur.
Daniels slaag hierna met ’n lywige strafskop om die telling 18-3 te maak.
Die plaasvervanger-vleuel, Wayden van Rooyen, druk die Paarliete se derde drie.
Die Albions-manne het ietwat verontreg gevoel toe ’n vierde drie nie aan hulle toegeken is nie, nadat Derrick Prins, met ’n oop doellyn voor hom, gelak is voordat hy die bal in die hand gehad het.
Manuel is as die speler van die wedstryd aangewys. Albions II en III het 22-0 en 30-0 verloor.
More
News
|