Afrikaans 'n fees van lekkerte
2006-08-03
DIE Afrikaanse Taalmuseum en ander organisasies in die Paarl span vanjaar weer saam om ’n interessante en uiteenlopende program aan te bied vir Afrikaansweek (13 tot 19 Augustus).
Die fees sluit onderwerpe in soos kontreistories, humor in die uitsaai- en toneelwese, die bevordering van Afrikaans, en die erfenis van NP van Wyk Louw.
Bekende skrywers en sprekers soos Philip de Vos, Joey de Koker, Christo van der Rheede, Willem Fransman, Gideon Joubert en Sussie Kotzé tree tydens vanjaar se fees op.
Die fees open om 08:30 en 10:00 op Sondag 13 Augustus met ’n spesiale Afrikaanse kerkdiens deur ds Carel van Wyk in die Suider-Paarl NG Kerk.
Die Afrikaanse Skrywersvereniging bied om 19:00 op Maandag 14 Augustus ’n voorleesaand aan met die tema “‘n Aand met die grotes...” by die Taalmuseum.
Jonger digters wat deur ander bekende digters beïnvloed is, sal uit hul werke voorlees. Bespreek by Petro Rhoode, 862-3636.
NP van Wyk Louw se ryk literêre erfenis sal ook tydens ’n gesellige byeenkoms op Dinsdag 15 Augustus om 19:00 in Courtrai herdenk word. Bespreek by Natasha October, 872-3441.
Twee lesings rondom die bevordering van Afrikaans word Dinsdag om 09:30 by die Hugenote-Gedenkskool gegee in samewerking met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Afrikaanse Taalmuseum.
Die sprekers is Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die SBA, en Isabeau Botha van die Taalmuseum. Bespreek by Natasha October, 872-3441.
Die Paarl se eie geliefde aktrise, Joey de Koker, gesels op Woensdag 16 Augustus om 10:00 oor humor in die uitsaai- en toneelwese. Dit vind plaas by die Op-en-Wakkerklub, NG Kerk Suider-Paarl, Courtrai. Bespreek by Natasha October, 872-3441.
Paarl Museum en die Dameskring bied op Donderdagoggend om 09:30 ’n spesiale Vroueoggend ter ere van Vrouemaand aan, met inspirerende praatjies deur dinamiese vrouens van die
Drakensteinvallei soos Sylvia le Cordeur en Muriel Ndzuzo. Dit is in die Toringkerksaal. Bespreek by Natasha October, 872-3441.
’n Gratis begeleide toer deur Paarl Museum se uitstallings oor die dorp se geskiedenis vorm deel van hierdie spesiale oggend.
Vrydagaand om 19:00 kuier die veelsydige Philip de Vos by die 55+ Sop-en-broodaand van die NG Gemeente Agter-Paarl. Bespreek by Frouwien du Toit by 872-2856.
Kontreistories is ’n skrywersprogram met Gideon Joubert, Willem Kotzé, Abraham Brink en Sussie Kotzé wat op Saterdag 19 Augustus om 09:30 by die Taalmuseum plaasvind.
Dié program sluit ook ’n sangoptrede deur Belia Lourens en ’n Sandveld-ete in. Bespreek by Natasha October, 872-3441.
By die Taalmuseum self word daar vanjaar tydens Afrikaansweek weer spesiale opvoedkundige programme vir graad 6- en 7-leerders aangebied, waarvoor studente van die Universiteit van Stellenbosch se Dramadepartement spesiaal ’n interaktiewe toneelstuk rondom die GRA geskep het.
Op Maandag 14 Augustus vind ’n funksie plaas waartydens trommels vol splinternuwe boeke aan ’n aantal skole oorhandig word as deel van ’n projek in samewerking met Biblionef en die Vriende van Afrikaans.
Vir meer inligting oor die Afrikaansweekprogram, kontak vir Natasha by 872-3441 of admin@taalmuseum.co.za.
More
News
|