Spring gou vir feesstalletjies
2006-08-03
DIE Cultivaria-fees wat van 21 tot 25 September in die Paarl gaan plaasvind, bied ‘n geleentheid aan interessante en kreatiewe stalletjieshouers.
Die twee hoof-uitstalareas sal geleë wees by die Food & Home Entertaining Gourmet Emporium (Faurestraat-stadion) en in Victoria Park. Stalletjies sluit in kos, wyn en unieke produkte.
In Victoriapark gaan daar musiekopvoerings wees en ‘n groot skerm waar besoekers kan kyk na Cultivaria TV met sitplek vir 2000 mense.
In totaal gaan daar slegs 60 stalletjies wees waarvan 28 aansoeke reeds ontvang is en 16 skole reeds hul plekke bespreek het.
Belangstellendes moet dus gou spring om te verseker dat hulle aansoeke betyds in is (die sluitingsdatum is 25 Augustus en geen laat aansoeke sal aanvaar word nie).
Kry aansoekvorms op die webwerf www.culti varia.com of skakel die kantoor by 872-9754 vir meer inligting. Die kontakpersoon vir aansoeke is Heinrich von Wielligh.
More
News
|