Hande word vlerke
2006-08-03
KUNSTENAARS moet ook hulle brood en botter verdien net soos enige ander mense, dus is dit nog meer bewonderenswaardig as hulle hul talente skenk om geld in te samel om vrouens te help.
Só sê Trudy Oosthuizen van Waterpoel, oor die kunsprojek om Ahos te help.
Ahos is ’n organisasie in die Paarl wat hulle beywer om vrouens en kinders wat slagoffers is van gesinsgeweld op te hef en te bemagtig.
Ahos se vaardigheidsentrum, wat 50% van die ‘Sit Hand By’-uitstalling ontvang, gaan 20 vroue op ’n slag inneem en hulle oplei om deur vaardighede hulle eie geld te verdien en weer menswaardig te voel.
Kunstenaars gaan ook die geleentheid gegun word om betrokke te raak by werkswinkels, lesings en praatjies vir vroue en moontlike werkskepping is nie uitgesluit nie.
Op Vrydag 1 September kry die publiek en maatskappye kans om ’n veiling by te woon waar sowat 50 hande opgeveil gaan word.
Kunstenaars is die geleentheid gebied om die hande te versier of by te werk in ’n kunswerk.
Kunstenaars wat hul harte op hulle hande dra, is Jeffrey Appollis, Alla le Roux, Tertia du Toit, Charles Haupt, Zelna Jooste, Jean Visser, Andre Knoesen, Tilly van Huyssteen, Elsa Valentine, Winnie Eaton, Jeanne Hendriks, Liz Lacey, Pieter Viljoen, Winnie Barnard, Sandi Esau, Nina van der Westhuizen, Shany van den Berg, Niclaas Maritz, Christelle Bester en nog meer.
Domingo Fyle, die Angolese man wat die houthande kerf vir die kunstenaars, kry ook op 1 September ’n kans om sy debuut te maak as ’n volwaardige kunstenaar.
Steek jou hand uit vir Ahos. Indien jy as kunstenaar voel dat jy wil meedoen aan die projek, kontak Trudy, 082-896-9863.
More
News
|