Wingerd kry voete vuur toe
2006-08-03
“DIE boewe stroop als wat hulle kan op ons plaas.” So sê Attie Mitchell, bestuurder van oud-atleet Danie Malan se plaas, Salomonsvlei, nadat oortreders 25 wingerdstokke afgesaag het, vermoedelik om te verkoop as braaihout.
’n Ontstoke Mitchell het gesê dat die wingerd nie weer vrugte sal kan produseer na dié skade nie.
“Die wingerde is so twaalf jaar oud en het uitstekende uitvoerdruiwe gedra.
“Hierdie verlies kan nie in rande en sente geskat word nie, want ons sou vir nog baie jare vorentoe druiwe van dié wingerd kon oes.”
Die diewe het vermoedelik oor die heining by die Boland krieketterrein toegang tot die plaas gekry.
“Oor die afgelope twee jaar is groot skade aan die plaas aangerig met diefstalvoorvalle wat die hoogte inskiet. Ons houtstutte word aanmekaar uit die wingerd gesteel, om nie te praat van al die vrugte wat tydens oes-tyd gesteel word nie.”
Mitchell het gesê dat hulle wel sekuriteitswagte het wat die plaas patrolleer.
More
News
|