Klipgooier tref hard
2006-08-03
’n LEWENSGEVAARLIKE spel word tans op Jan van Riebeeckweg gespeel, met kwaaddoeners wat voertuie met klippe gooi.
Die nuutste slagoffer hiervan is Martin Croutz van Groenheuwel.
Croutz was omstreeks 21:00 Vrydagaand onderweg na sy werksplek naby Klapmuts toe die voorval plaasgevind het.
Hy het by die verkeerslig op Jan van Riebeeckweg by die kruising met die Bo-dalpad stilgehou.
Toe hy stadig wegtrek, het ’n klip met ’n deursnee van ongeveer 20cm sy voorruit getref.
“Gelukkig het ek stadig gery anders het die rots dwarsdeur die ruit gebars en my getref,” het Croutz gesê.
“Daar was geen plek om van die pad af te trek nie en die verkeer was swaar agter my.
“Ek het ’n grootgeboude man met ’n baadjie en pet aan, sien weghardloop in die rigting van die Daljosafat stadion.”
Croutz het dadelik die voorval by die polisie gerapporteer, maar teen dié tyd het die skuldige reeds spoorloos verdwyn.
“Ek is net verlig dat my gesin nie by my in die voertuig was nie, want hulle sou erg geskok gewees het. Dit is ’n wonderwerk dat ek nie beseer is nie.”
Hoewel hy nie beseer is nie, gaan die skade sy sak ruk.
Onlangs is motoriste op die N1 ook met klippe bestook vanaf die Ceciliastraat-brug, in Suider-Paarl. Niemand is totdusver in dié voorvalle beseer nie.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat as die skuldiges van dié onverantwoordelike dade op heterdaad betrap word, hulle die volle mag van die gereg in die gesig staar.
* A local motorist’s car was stoned in Jan van Riebeeck Drive, Dal Josaphat. This is the third local incident.
More
News
|