Meisies hier baie welkom
2006-08-03
WOENSDAG op Vrouedag word twee dinge by die Universiteit van Stellenbosch se Departement Fisika gevier: vroue, en die vakgebied fisika.
Fisika as ‘n studie- en beroepsopsie vir vroue is die fokus, wanneer graad 10 tot 12 meisies van regoor die Boland genooi word om ‘n praktiese dag by die Universiteit te kom bywoon.
Dit sal van 09:00 tot 15:00 gehou word, en sal praktiese aktiwiteite, aanbiedinge deur vroulike fisici van die Wes-Kaap asook ‘n interaktiewe lesing insluit.
Onder die sprekers is dr Zinhle Buthelezi, die eerste swart vrou wat ‘n doktorsgraad in eksperimentele kernfisika van die Universiteit Stellenbosch verwerf het, asook laserkundige dr Christine Steenkamp wat onder meer sal vertel oor haar Amerikaanse studietydperk in die laboratorium van die Nobelpryswenner prof Carl Wieman.
Prof Delia Marshall van die Departement Fisika aan die Universiteit van Wes-Kaapland sal fokus op die kwessie van die balans tussen ‘n beroeps- en familielewe.
Volgens die organiseerder, dr Gillian Arendse, is daar in Suid-Afrika, soos in die meeste ander lande, slegs ‘n handjievol vroulike fisici werksaam.
Daarom sal die dag daarop fokus om skoolmeisies te interesseer in die vakgebied deur inligting te verskaf oor onder meer beroepsgeleenthede en die wyses waarop stereotipes rondom vroue in fisika afgebreek kan word.
Beperkte plek is beskikbaar vir die dag se aktiwiteite. Vir meer inligting, kontak dr Gillian Arendse by 808-3371/91 of gja@sun. ac.za.
Denise Ontong (072-222-3686) kan gekontak word oor vervoerreëlings vir diegene wat die byeenkoms vanuit die Paarl of Franschhoek wil bywoon.
More
News
|