Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bouwerk begin aan monument

Bouwerk begin aan monument
 
2005-04-21


BOUWERK aan die beoogde monument aan die Anglo-Boereoorlog op die Laborie wynlandgoed in die Paarl eersdaags begin, met die oog op onthulling in September.

Die monument sal opgerig word op ‘n granietknoets omring met olyfbome teen die hang van Paarlberg - net ‘n klipgooi van die historiese plaaswoning en wynkelder.

Dit is naby die plek waar die eikebos-kampeerterrein vroeër jare gestaan het.

Dit is waar twee massavergaderings tydens die Anglo-Boereoorlog gehou is om beswaar te maak teen die optrede van die Britse koloniale regering teen Transvaal en Vrystaat.

Volgens verslae was byna 2000 vroue teenwoordig onder leiding van die bekende Kapenaar Maria Koopmans de Wet om te protesteer teen die anneksasie van die Boererepublieke, die verskroeide-aarde-beleid, die konsentrasiekampe en die wegvoer van bannelinge.

Altesame 16 750 handtekeninge is ingesamel en ‘n petisie teen die Britse oorlogspoging is aan koningin Victoria gestuur.

In 1940, op 16 Desember, is ‘n Gedenknaald ter ere van Casparus Hildebrand op die plaas Kraalbosdam te Darling onthul en daardie dag het die spreker, dr DF Malan (later eerste minister), verwys na die opofferende rol van die Kaapse rebelle in die Vryheidstryd van die Republieke.

Hy het die wens uitgespreek dat ‘n monument opgerig word ter ere van hierdie dapper manne en vroue.

‘n Paar jaar later, in 1951, het ‘n Stellenbosser, Paul de Villiers, in sy testament 5000 pond bemaak vir die oprigting van ‘n Anglo-Boereoorlogmonument oor 50 jaar (met die 100-jarige herdenking van die oorlog).

Die bedrag het op 14 November 2001 sowat R440 000 beloop toe dit beskikbaar geword het.

Aangesien die testament nie ‘n plek vir die monument aandui nie is daar na wye raadpleging in oorleg met Sanlam Trust (wat die erflating hanteer), wat ook ‘n advokaatsopinie hieroor ingewin het, besluit op die Laborie-Landgoed, te Paarl (eiendom van KWV Internasionaal) weens sy historiese verbintenisse met die ABO honderd jaar gelede.
Volgens oorlewering het De Villiers se moeder die vergaderings by Laborie gelei.

Die besluit is geneem op die advies van verskeie kenners en bekende historici soos proff Frans-Johan Pretorius, Pieter Kapp, Marius Swart, Tienie van Schoor asook dié van skeppende kunstenaars soos prof Keith Dietrich.

Volgens die voorsitter, dr Carel Stander, is daar geen monument vir die Anglo-Boereoorlog in die Wes-Kaap nie, behalwe een wat deur die Britse regering opgerig is op die Kaapse Parade, ter ere van die gesneuwelde Britse soldate.

Vir die beoogde monument se ontwerp is voorstelle van drie beeldhouers verkry, en daar is besluit op die voorstel van Johan Moolman van Groot Marico, voormalige dosent in die Beelhoukuns.
Hy beoog ses brons reliëfpanele, wat in die rotse geplaas word tussen twee menslike rebellefigure (man en vrou) wat teenoor mekaar staan.

Daar word beoog om die name van die dorpe waar daar rebelle was, in die sirkel van granietstene rondom die monument aan te bring.
Die bronspanele beeld die protesvergaderings uit,
konsentrasiekampe, krygswet en neerlegging van wapens, die verskroeide aarde beleid, fusillering van 44 Kaapse rebelle, blokhuise en tronke.

Die Trusteeraad het besluit dat die Paarlse monument simbolies inklusief moet wees, nie net vir die Kaapse rebelle nie, maar vir almal wat die Boeremagte direk en indirek in hul stryd gesteun het.
Die riglyne wat die swaarste geweeg het, was dié van ligging, permanensie, toegangsbeheer, sekuriteit en ewigdurende instandhouding.

Die proses om die goedkeuring vir ‘n geskikte perseel, hersonering, omgewingimpakstudie, servituut en bouplanne van owerheidsinstansies en statutêre liggame te verkry het ‘n paar jaar in beslag geneem.

Onder die betrokkenes is Ton Vosloo (beskermheer), Huberte Rupert (beskermvrou), dr Pieter Bingle (kultuurkenner), Andries Domburg (argitek), A Bestbier (Bourekenaar), S Dreyer (Landmeter en Stadsbeplnner) en dr Johan Neethling (Omgewingsinvloedstudies).
As tweede fase sal ‘n beeld vir die rebel by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein opgerig word.

* A monument to the Cape rebels who sided with the Boer republics during the Anglo Boer War, and their supporters, is to be erected on Laborie wine estate in Paarl South.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za