Violets skuur net-net deur
2006-08-03
DIE eerste span van Violets Paarl het Saterdag ’n naelskraap 15-13 sege oor Manenberg Rangers behaal.
Dit was ’n goeie oorwinning vir die Paarl-span wat aansienlik ligter was as die manne van Manenberg.
Rangers se agtal was veral baie prominent en dit het behoorlik keerwerk gekos om hulle van die doellyn af weg te hou.
Violets het baie balbesit in die lynstane afgestaan en hul skrums is ook telkens met gesag agteruit gestoot.
Rangers het teen rustyd 10-7 voorgeloop.
Met die humeure wat dan ook opgevlam het, het paaiende woorde van Violets-kaptein uiteindelik die verskil gemaak.
Twee rooikaarte en drie geelkaarte is deur die skeidsregter uitgedeel. Die Paarliete het egter koelkop gebly en kon danksy ’n vinnige drie die wedstryd beklink.
Kenwill Dennis en Manchur Anderson het Violets se drieë gedruk, terwyl Timmy Nolan met ’n doelskop en strafdoel geslaag het.
Die tweede span het 17-10 verloor terwyl die derde span 27-5 gewen het.
More
News
|