Sias skitter vir Riverstones
2006-08-03
VIER drieë deur die buitesenter, Bradley Sias, was Saterdag die hoogtepunt in Riverstones se 36-0 oorwinning oor Perseverance op die Daljosafat Stadion.
Riverstones het vyf drieë gedruk tydens die kliniese vertoning waartydens die besoekers nooit werklik op dreef kon kom nie.
Goeie samespel deur die Paarliete se voor- en agterspelers was die basis van ’n vertoning wat die span sal moed gee vir die res van die seisoen.
Die tuisspan het ’n oorvloed balbesit gehad en hoewel foute later in die wedstryd by hul spel ingesluip het, het die Paarliete nooit in die moeilikheid gelyk nie.
Marlin Zwaan en Hilton Green het gesorg vir heelwat besit in die lynstane en so genoeg hardloopkans aan die agterlyn verskaf.
Francois van Neel het Riverstones se ander drie gedruk, terwyl Gerswhin Paulse in die kol was met vier doelskoppe en ’n strafdoel.
Riverstones II kry volpunte nadat hul teenstanders nie opgedaag het nie en die derde span wen hul wedstryd 47-5.
Riverstones speel Saterdag tuis teen Peninsula.
More
News
|