Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Dawie delf diep in Amerika

Dawie delf diep in Amerika
 
2006-08-03


HULLE sê die gras is nie altyd groener aan die anderkant van die draad nie.

Vir oud-Paarliet en gerekende gholfspeler, Dawie van der Walt, is die gholfgrasperke in Amerika beslis groener as dié van sy geboorteland.
Sedert Van der Walt meer as ’n jaar gelede by die Lamar Universiteit in Houston, Texas, begin gholf speel het, het sy spel net eenvoudig van krag tot krag gegaan.

Die sukses wat Van der Walt en nog twee Suid-Afrikaners, Oliver Bekker en Justin Harding, by Lamar tot gevolg gehad het, word breedvoerig in die huidige uitgawe van die Suid-Afrikaanse tydskrif Golf Digest uitgelê.

Dit is Van der Walt se goeie vertoning in sy eerste seisoen by Lamar - hy het in 2005 die kwarteindronde van die Amerikaanse Amateur Kampioenskap bereik - wat die afrigters laat wonder watter ander talent daar in Suid-Afrika skuil.

Dit is op aanbeveling van die 23-jarige dat Lamar vir Bekker en Harding genader het met gholfbeurse.

Die drie Suid-Afrikaners het ’n reuse invloed op Lamar se gholf-status gehad. Dié universiteitspan het vanjaar gesamentlik negende geëindig by die finaal van die National Collegiate Athletics Association (NCAA) Gholfkampioenskap en sewe van die 13 streekstoernooie gewen waaraan hulle deelgeneem het.

Om die kroon te span, is Van der Walt in die tweede span van die All American Team opgeneem.

Van der Walt, ’n oud-Gimmie, het in Junie vanjaar individueel vierde geëindig in die NCAA Gholfkampioenskap in Oregon.

Van der Walt is van plan om ná volgende jaar se NCAA finaal professioneel te begin gholf speel.

Hy hoop om voor dan in die eerste span van die All American Team ingesluit te word, wat moontlik vir hom geleentheid kan gee om in sekere PGA-toernooie speelkans te kry.

Van der Walt het die naweek algeheel 18de geeindig tydens die finale ronde van die Porter Cup-toernooi by die Niagara Falls Gholfklub wat Saterdag gespeel is.

Dawie het met rondetellings van 74, 71, 67 en 69 ’n een oor baansyfer 281 behaal.

Die Suid-Afrikaner wat tans die derde gekeurde amateur in die VSA is, sal van 21 tot 27 Augustus weer in die Amerikaanse Amateur Kampioenskap in aksie wees.

Hy het vir die toernooi gekwalifiseer nadat hy in 2005 se VSA Amateur-kampioenskap na die kwarteindronde deurgedring het.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za