Wellington is Boland krieket-kampioen
2006-08-03
DIE Wellington Krieketklub is die Boland se klubkrieketkampioen vir die 2005/2006 seisoen.
’n Arbiter, adv Gary Oliver, het Dinsdag ten gunste van Wellington Krieketklub bevind in ’n arbitrasie-saak, met die Boland Krieketraad en Young Peoples Krieketklub as die ander partye.
Die saak spruit uit ’n twispunt rondom nege ligapunte wat Boland Krieket van Wellington Krieketklub ontneem het, nadat die klub nie ’n vertreksertifikaat van een van sy nuwe lede, Riaan Jephta, kon voorlê nie.
Young Peoples is ook by die saak betrek aangesien Wellington aangevoer het dat Peoples die uitreiking van ’n vertreksertifikaat vertraag het.
Volgens Boland Krieket se grondwet moet ’n speler by sy huidige klub om ’n vertreksertifikaat aansoek doen wanneer hy van klub wil verwissel.
Die wye en vae beskrywing van dié klousule in die Boland grondwet is egter deur die Wellington Krieketklub bevraagteken.
Wellington Krieketklub se regverteenwoordigers het dan ook die grondwetlike aspek van die klousule bevraagteken.
Volgens die uitspraak van adv Oliver is dit ongrondwetlik om enige speler se reg op vryheid van beweging in te perk.
Oliver was van mening dat die vereiste en weerhouding van ’n vertreksertifikaat op Jephta se menswaardigheid inbreuk gemaak het.
Daar is verder bevind dat die klousule, waarin vertreksertifikate uitgereik word met geen keerdatum nie, as ongrondwetlik beskou kan word.
Met die opskorting van die nege-punte straf is Wellington Krieketklub nou bo-aan die punteleer van die Boland se Superliga.
Hangende die uitspraak van die arbitrasiesaak, was Brackenfell Krieketklub die voorlopige klubkampioen.
Die manne van Wellington sal egter nou die Boland by die Nasionale Klubkampioenskap verteenwoordig wat van 20 tot 25 September in Pretoria gespeel word.
Wellington Krieketklub spog dus vanjaar met drie titels nadat hy die Superliga se Top 8-kompetisie en die 45-boulbeurt-kompetisie gewen het, en nou ook as die klubkampioene gekroon is.
Dit is die eerste keer dat Wellington aldrie die titels in een seisoen inpalm.
Die klub se vorige beste vertoning in ’n seisoen was in die middel-tagtigerjare toe hy die eendag- en meerdagkompetisies gewen het.
Volgens die klub se voorsitter, Piet Hanekom, was die klub se sukses vanjaar te danke aan uitstekende spangees van dié groep jong spelers.
“Die sukses is die produk van veggees, toewyding, lojaliteit aan die span en algehele wonderlike sportmangees van al die spelers,” het Hanekom sy spelers geprys.
Met so 'n jong span wat so goed mekaar gevind het, is dit van selfsprekend dat Wellington ’n bloeitydperk betree het.
“Die gemiddelde ouderdom van die span is jonger as 22 jaar, met Sarel Wolmarans (in sy dertigs) wat met meer ervaring kan spog,” vertel Hanekom.
Die span is vanjaar deur Bronwill Williams (speler-afrigter) en Basie Basson gebrei.
Hanekom voeg by dat die klub se baanopsigter, Hendrik Lakay, asook die Drakenstein Munisipaliteit ’n groot rol gespeel het in die verskaffing van ’n goeie krieketblad en buiteveld.
“Ons borg het ook vanjaar baie vir ons gedoen. Daarom moet ons vir André Botha van McCarthy Toyota ook hartlik bedank vir sy bydrae.”
Die klubbestuur is vol entoesiasme om in die nuwe seisoen die klubhuis op te gradeer. ’n Fondsinsameling vir dié projek sal op 24 November in die vorm van ’n korporatiewe gholfdag by die Wellington Gholfklub gehou word.
’n Groot “Golden Oldie” ses-aan-’n-kant toernooi word ook vir 25 November beplan, sê Hanekom.
“Drie spanne van Wellington, een span van Edgemead asook drie spanne bestaande uit oud-krieketsterre sal in aksie wees.
“Die toernooi wat ’n steak-ete en ’n wynveiling insluit, sal op Schalk Burger se krieketveld, die Welbedacht Oval, gespeel word,” sê Hanekom.
Wellington Krieketklub is ook een van die 16 Superliga-spanne wat in November aan Boland Krieket se nuwe Pro20-kompetisie sal deelneem.
Mense wat belang stel om aan die gholfdag deel te neem of nuwe spelers wat by die klub wil aansluit, kan Piet Hanekom skakel by 082-801-6143.
More
News
|