Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Afrikaansweek in die Paarl

Afrikaansweek in die Paarl
 
2006-08-10


Ondeund in die ouetehuis

’n MENS is nooit te oud om ondeund te wees nie, ook nie in ’n ouetehuis nie, en veral nie as jy Joey de Koker is nie.

Joey (74), die Paarlse koningin van drama, is eersdaags te sien in ’n nuwe televisiereeks van 13 episodes, “Geraldine II”, deur Esta Steyn.

Toe die regisseur, Sandra Prinsloo, vir Joey genader het om op te tree, het sy tipies reguit geantwoord: “Ek is grys, oorgewig en kreupel.”

Dis toe juis die eienskappe wat nodig was, en saam met die bekende Nerina Ferreira het Joey in die aftree-oord gaan sit - en giggel en skinder. Saggies.

Dat die regisseur dit reggekry het om vir Joey stil te hou, is ’n wonderwerk.

“Die stuk is oorspronklik, vars en anders - stout. Die oumense in die oord is baie doenig,” glimlag Joey stuitig.

Die verfilming was op Lourensford Landgoed by Somerset- Wes.

“Dit was soos ’n reünie. Toe ek op die stel kom, is André Rossouw daar, Marko van der Colff, Eric Nobbs van my oorklankingsdae, Nic de Jager van my Springbokradiodae en Antoinette Kellerman in die hoofrol.”

Die reeks is Saterdag, ná twee maande verfilming, klaar geskiet.

“Sê tog vir al my en Nerina se pelle hulle moenie hul oë knip nie.
Ons praat nie en ons kom so staccato op. Hulle mag ons dalk mis.”

Joey is al vyf jaar ’n inwoner van in Huis Vergenoegd in die Paarl nadat artritis haar in haar dorpswoonstel bekruip het.

Sy het graag en vinnig beweeg, en nou is dit met twee kieries. Maar sy hou van pret, en as sy nog vir die pret betaal word, soos in die ondeunde ouetehuis op televisie, dan is die wêreld reg.

* Joey tree Woensdag 16 Augustus in Courtrai se NG Kerksaal om 10:00 op as deel van Taalweek. Met haar 53 jaar ondervinding, sal sy gaste vermaak met humor en sappighede in die uitsaaiwese en die verhoog.



Digter se werke gevier

DIE Vriende van Afrikaans en die Vriende van die Taalmuseum bied Dinsdag 15 Augustus as deel van Afrikaansweek ’n gesellige
skrywersaand ter ere van NP van Wyk Louw in die Paarl aan.

Die program begin om 19:00 en word by Flambeaustraat-Noord 53 in Courtrai aangebied.

Riette Hugo, vakhoof vir Afrikaans by Bishops (Diocesan Kollege) in Rondebosch, sal ’n gesprek lei oor die relevansie van temas in Van Wyk Louw se werke, soos in Germanicus en Raka.

Floyed de Waal en Frieda van den Heever, albei dosente aan die Universiteit van Stellenbosch se Dramadepartement, sal hul gunsteling gedigte van Van Wyk Louw voorlees.

Dit is die eerste van drie in ’n reeks van skrywersfunksies rondom NP van Wyk Louw wat vanjaar in die Paarl aangebied word.

Bespreek by Natasha October by 872-3441. Besoek ook www.taalmuseum.co.za vir die volledige Afrikaansweekprogram.




Kontreistories

KONTREISTORIES is ’n skrywersprogram rondom kos, plekke en stories wat op Saterdag 19 Augustus by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl plaasvind.

Dié program sluit voorlesings deur Gideon Joubert, Willem Kotzé, Abraham Brink en Sussie Kotzé in, asook ’n sangoptrede deur Belia Lourens.

Die program word heel gepas afgesluit met ’n wynproe deur Mooiplaas Landgoed en ’n Sandveldete met waterblommetjiebredie op die spyskaart.

Kaartjies by Natasha October by 872-3441. Besoek www.taalmuseum.co.za vir die volle Afrikaansweekprogram.



Koop 'n boek dag

DIE Vriende van Afrikaans moedig mense aan om op 14 Augustus, Taaldag, een Afrikaanse boek te koop, vir jouself of vir iemand wat dit nie self kan doen nie.

Die idee daaragter is ’n bewusmakingsveldtog en die skep van ’n leeskultuur.

Hulle wil ouers en kinders opnuut bewus maak van die wonderlike Afrikaanse boeke wat op die mark is en vra dat hulle op GRA-dag ’n boek gaan koop.

Verskeie boekwinkels bied op dié dag afslag aan op elke Afrikaanse boek wat gekoop word.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za