Bo blink, onder stink
2006-08-10
DIE Paarl Poskantoor het pas ’n “nuwe” gebou betrek. Net jammer die diens hou nie tred met die uiterlike nie.
Die Poskantoor roem hulle luidkeels op hulle leuse: “Ons lewer af, kom wat wil” (terloops ’n flou en onbeskaamde napratery van die Amerikaanse posdiens), maar ek sou graag wou weet wáár hulle aflewer en hoe lánk dit duur voordat hulle aflewer.
Die afgelope tyd het ’n hele aantal posstukke wat aan my geaddresseer was, my nie bereik nie.
Briewe en verjaardagkaartjies wat ek gepos het, het ook nie hulle bestemming bereik nie.
’n Tydskrif waarop ek al geruime tyd ingeteken het, is skielik teruggestuur aan die versender. Om watter rede weet ek nie, want die verspreiders het my gebel om te hoor of ons adres verander het.
Dit was nie die geval nie, tog kon die poskantoor ons skielik nie opspoor by die adres waar ons pos al jare lank afgelewer word nie.
’n Geregistreerde brief van die Paarl af na Kraaifontein het ’n volle twee weke geneem om die iets meer as 40 kilometer af te lê.
Pos wat met die poskantoor se koerierdiens versend word (’n “gewaarborgde” 24-uur diens waarvoor jy ten duurste betaal) neem tot vier dae om afgelewer te word en dan stel die poskantoor jou nie eers in kennis as so ’n “spoed-item” wag om afgehaal te word nie. Jy soek jou letterlik blou in die gesig om uit te vind wat van jou pos geword het.
Die Poskantoor se vrot diens kos my, benewens die massas posgeld, ook nog ’n tamaai bedrag aan oproepkoste wat na Telkom moet gaan vir al die navraag-oproepe.
“Ons lewer af,” sê hulle. “Vrot diens,” sê ek.
Ansie Borman
More
News
|