Skaam vir Paarl
2006-08-10
GROOT is die opgewondenheid nadat die Paarl Cultivaria-program by ons huis afgelewer is verlede week en alles klink so lekker en vol gees.
Die burgemeester en die feesdirekteur beskryf die Paarl se skoonheid so mooi dat ek vir ’n kort wyle trots voel om ’n Paarliet te wees. Hoekom dan net vir ’n kort wyle?
Ek voel skaam dat mense van heinde en verre moet kom om in ons strate se slaggate te ry.
Ons inwoners weet al min of meer waar ons versigtig moet ry sodat jou motor se onderstel nie beskadig word nie, of waar ’n moontlike ongeluk kan plaasvind as gevolg van die gate in die pad.
Daar word ’n dinee in die Hoofstraat gehou, wat ’n briljante idee is, maar wat van die verstuite enkels?
In ’n munisipale nuusbrief van Oktober 2005 is daar strategiese doelwitte uiteengesit met jaarlikse teikens. Daar staan dat rekonstruksie van paaie teen 900 meter jaarliks gedoen sal word en herseëling van paaie 11 kilometer, as ek reg verstaan.
Daar is al so baie versoeke gerig dat daar asseblief aandag gegee moet word aan die toestand van ons mooi dorp se paaie en sypaadjies, waarop gras en onkruid groei.
Hier is nou ’n baie goeie rede om ons paaie reg te maak voor die Paarlse Cultivaria sodat ons met trots kan spog met ons mooi dorp.
Carina Payne
More
News
|