Slim planne uitgestal
2006-08-10
MOENIE vanjaar se streekskompetisie van die Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes misloop nie.
Al die inskrywings vir hierdie inspirerende prestige geleentheid is vanaf 11:00 op 18 Augustus oop vir besigtiging in die DF Malan Gedenksentrum op Coetzenburg in Stellenbosch.
Die kompetisie word weer vanjaar deur die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Wiskunde en Wetenskaponderwys (Fakulteit Opvoedkunde) in samewerking met die Fakulteit Natuurwetenskappe aangebied.
Sowat 400 projekte in 25 kategorieë van leerders so ver suid soos George en so ver noord soos Vredendal sal onder meer te sien wees.
Die leerders uit die Boland, Weskus, Overberg en Suid-Kaap ding mee in afdelings soos fisiese of chemiese wetenskappe, tegnologie, innovasie en elektronika, dier- of plantwetenskappe, klimaatsveranderingstudies, mediese en gesondheidswetenskappe, landbou, voeding, wiskunde, rekenaarwetenskappe en sosiale wetenskappe.
Elke navorsingsprojek word deeglik deur dosente aan die Universiteit Stellenbosch, onderwysers van verskillende skole en professionele persone uit die privaatsektor beoordeel en elke leerder kry terugvoer.
Die prysuitdeling vind om 15:30 op 18 Augustus plaas, wanneer medaljes en kontantpryse uitgedeel sal word aan die toppresteerders.
Vyftien projekte sal ook gekies word om hierdie streek in Oktober by die jaarlikse nasionale kompetisie in Pretoria te verteenwoordig.
Leerders uit die streek vaar uitstekend in dié kompetisie en het reeds verder gegaan om hul stempel af te druk op internasionale wetenskapuitstallings. In die afgelope vier jaar was twee leerders uit die Weskusstreek onder meer na Moskou om hul projek oor die medisinale waarde van inheemse plante uit te stal, terwyl ‘n Stellenbosser die voorreg gehad het om die Nobelprys oorhandigingseremonie by te woon.
Verlede jaar het ‘n Overbergse aspirant-ruimtevaarder NASA besoek, terwyl ‘n leerder van Graafwater pas uit Spanje teruggekeer het nadat sy projek oor die invloed van SMS-taal op leerders se spelling daar uitgestal is.
Vir meer inligting, kontak organiseerder Erika Hoffman by 808-3482 of ehoff@sun.ac.za. Besoek ook www.imstus.sun.ac.za.
* The regional Eskom Expo for Young Scientists will be held at the DF Malan Centre in Stellenbosch on Saturday 18 August from 11:00.
More
News
|