Bank-bedrogspul
2005-04-21
BANKE se kliënte word gewaarsku om op hul hoede te wees vir die nuutste bedrogskema waarmee ten minste drie Paarliete al duisende rande verloor het.
Die kliënt kry ’n telefoonoproep waarin hy meegedeel word dat daar per ongeluk R9000 in sy bankrekening gedeponeer is.
Die persoon faks selfs ’n kontantstrokie as bewys dat die geld inbetaal is. Die bankstrokie is eg, en die kliënt se rekeningnommer is korrek.
“Sal meneer/mevrou dit asseblief weer onttrek en in my rekening terugbetaal?,” vra die bedrieër dan.
Volgens Paarl speur-insp Grandell Maarman (807-4000) plaas goedgelowige mense die geld summier oor, sonder om ’n staat te trek en dit behoorlik na te gaan.
“Op die staat sou hy sien dat daar nooit R9000 in sy rekening inbetaal was nie. En wanneer ons die verdagte se rekeningnommer nagaan, is dié rekening gesluit.”
* A new fraud scheme is costing bank clients thousands.
More
News
|