Lanbouers trek saam op Bredasdorp
2006-08-10
DIE jaarlikse Agri Megaweek vind van 29 tot 31 Augustus op Bredasdorp plaas en sowat 12 000 besoekers word verwag by die expo.
Hoogtepunte op die program sluit in ‘n ontbyt saam met prof Willie Esterhuyse en ‘n werkswinkel onder leiding van dr Johan Willemse, bekende landbou-ekonoom, met top plaaslike en internasionale sprekers oor die onderwerp “Steek R100 000 ekstra in jou sak”.
Daar is uitstallings en demonstrasies van nuwe tegnologie soos die Auto Trac Universal Steering Kit van John Deere SA en ‘n unieke Agri Toerisme Expo met praktiese demonstrasies en waardetoevoegende sessies met toepaslike bestuursinligting en wenke.
‘n Opwindende program vir dames - Agri Femina - bied insette oor drie dae rondom die tema, “Die vrou in die landbou - ‘n seisoensverandering!”
Daar is ook veerasse-uitstallings met puik veeverwante demonstrasies deur top kundiges.
Dit sluit in volstruis slag- en vleisverwerking; nadoodse ondersoeke op skaapkarkasse; hoefversorging van suiwelbeeste; vere pluk by volstruise; dons pluk van ganse; skeer van skape; en werk met skaaphonde.
Die suiwelskoue vertoon top diere vanoor Suid-Afrika; daar is ‘n boerepatentekompetisie en uitstallings; asook konvensionele veeveilings en ‘n demonstratiewe internet veiling.
Samelopend met die Agri Megaweek word daar ook ‘n Plaaswerker Ontwikkelingskonferensie asook ‘n Agri Skole-ontwikkelingsprogram aangebied.
Navrae kan gerig word aan Cornea Geldenhuys by (028) 424-2890 of agrimega@telkomsa.net. Die Agri Mega webtuiste by www.agrimega.co.za kan ook besoek word.
More
News
|