Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarliet onder top 5 landbouvroue

Paarliet onder top 5 landbouvroue
 
2006-08-10


‘n PAARLIET, Eurica Scholtz, het deurgedring na die nasionale eindronde van die “Vroueboer van die Jaar” kompetisie.

Sy is aangewys as die Wes-Kaapse Vroueboer van die Jaar (uitvoermark) en dring nou deur na die eindronde in Durban op 26 Augustus.

Die ander kategoriewenners was Jeanne Groenewald van Elgin, Wadea Jappie van Schaapkraal in Philippi op die Kaapse Vlakte, die Masikhulisane Groenteprojek van Gugulethu en Elza Jordaan van die Hexvallei.

Die kompetisie het ten doel om vroueboere wat hul merk maak in die voorheen mansgedomineerde landboubedryf en so ook ‘n daadwerklike verskil maak in hul onderskeie gemeenskappe, te vereer.

Eurica Scholtz, wenner van die kategorie Top Produsent vir Uitvoermarkte, is ‘n tafeldruifboer van die Paarl.

Op haar plaas, La Ferme Derik, produseer sy 18 variëteite kwaliteittafeldruiwe wat na Europa, die Verre Ooste en Kanada uitgevoer word.

Eurica het ‘n natuurlike talent om probleemsituasies innoverend aan te pak.

So het sy baanbrekerswerk gedoen deur vlamsiek in die wingerde met die biologiese natuurlike weergawe van medikasie bedoel vir mense met Parkinsonsiekte, te behandel. Die oes op die besmette deel van die wingerd is met 30% verhoog en die stokke is besig om te genees.

Jeanne Groenewald, Top Produsent vir Nasionale Markte, se boerdery het in 1996 begin met 100 kuikens in haar agterplaas. Vandag voorsien sy Woolworths en Pick ‘n Pay van vrylopende (free range) hoenders onder die handelsmerk, Elgin Free Range Chickens.

Wadea Jappie, wenner van die kategorie Top Produsent vir Informele Markte, se idee met die koop van ‘n klein lappie grond in die Schaapkraal-omgewing (Philippi) was eers net om vir haar kinders meer speelspasie te gee.

Vandag, sowat drie jaar later lewer haar 1500 hoenders daagliks meer as 1000 eiers aan verskeie bekende restaurante in en om Kaapstad en het sy ook begin om groente aan te plant wat aan die plaaslike mark gelewer word.

Die Masikhulisane Groenteproduksieprojek van Gugulethu het die kategorie vir Top Produsente vir Huishoudelike Gebruik gewen.
Hierdie groep vroue wat op slegs 600 m2 met groente boer, het hulle eerste plek verdien vanweë die feit dat hulle rolmodelle in die gemeenskap is en hul produkte met HIV-positiewe mense en ander hulpbehoewendes in hul gemeenskap deel.

Die Wes-Kaapse Departement Landbou het egter vanjaar ook ‘n vyfde kategorie bygevoeg vir vroue wat in die algemeen ‘n indrukwekkende bydrae tot die bevordering van landbou maak sonder om noodwendig te boer.

Hierdie kategorie, die Landbouvoorloper van die Jaar, vereer vroue wat onder andere bydra tot ontwikkeling en transformasie binne die landbousektor.

Elza Jordaan van De Doorns is aangewys as wenner in hierdie kategorie vir haar uitnemende werk in terme van die plaaswerkers van die Provinsie. Die jaarlikse Plaaswerker van die Jaar kompetisie was Elza se breinkind.

Die wenners van die eerste vier kategorieë sal op 26 Augustus in Durban aan die nasionale kompetisie deelneem.

* Riana Scheepers van De Compagnie, Wellington, was saam met haar werknemer Nicci Thabo naaswenner in die Voorloper kategorie.



More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za