Besondere sorg vir spesiale kinders
2005-04-21
David Joshua
DIE Paarl Stimulasiesentrum is ‘n besondere plek, waar erg gestremde en dikwels opvoedkundig vergete kinders met liefde opleiding en fisioterapie kry.
Die skooltjie vir gestremde kinders, geleë in die ou Verpleegsterswoning agter Sonstraal Hospitaal, lewer ‘n broodnodige en onontbeerlike diens aan die gemeenskap.
Die personeel van tien hardwerkende en opofferende mense staan nou onder leiding van ‘n nuwe hoof, Levona Sitzer.
Saam met haar werk vier opvoeder-versorgers (Anthea Francke, Johanna Mpunting, Gladys Tyatyeka en Vanessa Hollies), met hul hulpe Angeline Antonie, Amelia Adonis en Raayghana Fredericks. Jimmy Green is die drywer en Katriena August behartig die kombuis. Daar is tans sowat veertig kinders tussen 18 maande en 18 jaar oud, wat versorg word in klasse vir opleibare- en nie-opleibare kinders. Die opleibares word die basiese lewensvaardighede aangeleer.
Hiervandaan gaan die kinders óf na Ligstraal Skool in die Paarl of na Astra-opleidingsentrum in Kaapstad.
Die nie-opleibare kinders is vir hul algehele versorging heeltemal afhanklik van hul ouers of voogde en die personeel by die sentrum.
Soggens van sewe-uur word die kinders op die Paarl- en Mbekweni-roete deur twee kombi’s, een waarvan deur Levona bestuur, na die sentrum aangery.
Voorheen moes dit slegs met een kombi gedoen word, maar met ondersteuning van Lotto, kon nog ‘n kombi aangeskaf word. Daar is ook reeds ‘n waglys vir nog kinders om by die sentrum opgeneem te word.
Ernest Johannes, voorsitter van die beheerraad, sê dat ekstra personeel aangestel kon word en nou lewer die sentrum ook fisioterapie-dienste wat behartig word deur Lara Strong, ‘n fisioterapeut, wat Dinsdae die sentrum besoek.
Verdere uitbreidings by die sentrum, soos die aanbou van nog klaskamers, ‘n stoor, ‘n beveiligde motorhuis, opgradering van toilet- en badkamergeriewe, uitbreiding van die kombuis, opgradering van die rekenaartoerusting en die algemene opknapping van die terrein, word egter gekortwiek omdat die hele kompleks tans gehuur word. Onderhandeling om die plek aan te koop, kom reeds anderhalfjaar aan.
Fondsinsamelingsprojekte word gereeld gehou. So is daar hierdie kwartaal ‘n wynproe-toer en basaar reeds gereël, met ‘n winterdans in die volgende kwartaal.
Dié en ander funksies word deur die gemeenskap ondersteun maar enige hulp of donasies word gevra en waardeer. Vir verdere inligting kan Sitzer gekontak word by 862-7113 of paarlstim@tel kom sa.net. * The Paarl Stimulation Centre cares for children with special needs.
More
News
|