Word Groenheuwel blikkiesdorp?
2006-08-10
GROENHEUWEL word ’n blikkiesdorp en dit gaan nie goed wees vir toerisme nie.
Dit was maar een van die opmerkings by ’n gemeenskapsvergadering teen die behoogde noodbehuising wat in Jan van Riebeeckweg regoor Groenheuwel en langs die Drakenstein verkeersentrum opgerig gaan word.
Grondwerke vir die behuisingsontwikkeling is reeds ver gevorder. Die projek sal bestaan uit gedienste erwe waar begunstigdes hul eie huise kan oprig.
Planne vir die ontwikkeling is gemaak ná die verwoestende brand in die informele nedersetting aan die begin van 2005. Die 43 hektaar sal huisvesting bied aan sowat 2000 gesinne.
Ander kopsere wat by Maandag se protesvergadering geopper is, is waardevermindering van eiendom en verhoging in misdaad wat gevrees word.
Die vergadering is belê deur die Groenheuwel-sektor van die Polisiëringsforum. Die voorsitter, mnr November, het beklemtoon dat hulle nie teen enigeen wil diskrimineer nie.
Hy het bygevoeg dat die burgemeester, onderburgemeester, munisipale bestuurder en die portefeuljehouer van behuising uitgenooi was na die vergadering, maar geen reaksie is ontvang nie.
Hierop het ’n stem uit die gehoor geroep: “Ons gaan na hulle toe!”
Inwoners was duidelik warm onder die kraag oor die nuwe projek: “Ons is nou vasgedruk tussen plakkerskampe. Fairyland moes al huise gekry het, en nou kom hier net nog hokkies by.”
Die mense was dit oor een saak eens: “Ons het niks teen die mense nie. As hulle ordentlike huise kan bou, sal dit net beter wees.”
“Dis seker HOP-huise,” het ’n vrou onderlangs gebrom, “so, julle bedoel eintlik kakkerlakhuisies.”
Nog ’n saak wat aangeroer is, is onbeperkte toestroming van mense uit ander streke na die Paarl.
“Hierdie mense maak almal aanspraak op huise, dikwels voor mense wat lankal op die waglys is.”
“Dieselfde geld vir die buitelanders,” het ’n stem geroep.
“Ons het uit die flatse getrek na Groenheuwel om beter omstandighede te skep. Nou skep die raad weer dieselfde swak omstandighede vir ons,” het ’n vrou betoog.
Sy het bygevoeg dat indien daar heel aan die begin teen die plakkers in Drommedarisstraat (en elders) opgetree is, sou daar nie nou ’n probleem gewees het nie.
Heelwat mense was vies omdat die projek naby Groenheuwel geleë is.
“Ons beweeg terug na die ou groepsgebiede toe. Hoekom moet net sekere gebiede opgeneuk word? Hoekom kan die plakkers nie ’n slag Courtrai toe geskuif word nie?”
Clara Meyer, DA-raadslid wat self in Groenheuwel bly, het gesê dit is maklik om die probleem te identifiseer, maar daar moet ook gekyk word na ’n oplossing.
Sy het genoem dat die Wes-Kaapse Minister van Behuising oor die radio gesê het dat hy R600 miljoen het om te bestee voor die einde van die jaar.
“Hoekom kan daar nie huise gebou word vir die mense, as daar soveel geld beskikbaar is nie?”
Sy het aan die vergadering verduidelik dat die Munisipaliteit net ’n agent is vir behuising en gevra dat die minister ook betrek moet word by enige aksie.
Uiteindelik het die vergadering besluit om ’n optog te hou en ’n versoekskrif aan die Munisipaliteit te oorhandig. ’n Komitee is gekies om die reëlings te tref.
’n Opvolgvergadering sal Maandag 19:00 by Groenheuwel Primêr gehou word om die versoekskrif te finaliseer.
* Residents of Groenheuwel held a meeting to protest a new informal housing settlement planned next to Jan van Riebeeck Drive in Paarl, fearing crime and lower property values..
More
News
|