Kind uit skag gered
2006-08-10
Lise Beyers
’n GROOT reddingsoperasie is Sondagoggend uitgevoer om ’n kind te red wat by ’n skoorsteenskag afgeval het.
Reddingswerkers van die Paarlse brandweer- en ambulansdienste het ure lank gespook om die skoorsteen oop te breek en die kind uit die skag te bevry.
Die vyftienjarige seun, Morné Steenkamp, het glo omstreeks 04:00 Sondagoggend in Zionstraat in ’n stryery betrokke geraak met een van sy vriende’ saam met wie hy op die straat woon.
Morné is met ’n stukkende bottel teen die kop geslaan en volgens ’n ooggetuie het hy weggehardloop.
Hy het agter die gebou waar La Romantica en Bosa Nova geleë is, ingehardloop. Op die tweede vlak van die parkeerarea is ’n deur wat lei na ’n toring waarin die restaurante se uitlaat-skoorstene is.
Morné het hier kop eerste by ’n gat ingeduik uit vrees vir sy lewe. Hier het hy ongeveer sewe meter ver by die skag afgegly tot waar hy, agter ’n metaal skoorsteen, vasgesit het.
’n Voetganger het omstreeks 07:30 Morné se angskrete gehoor, en die polisie is in kennis gestel. Dit het ’n tydjie geduur om vas te stel vanwaar die hulpkrete kom. Hierna is die nooddienste se hulp ingeroep.
Dit was egter nie ’n maklike taak om Morné te bevry nie. Volgens reddingswerkers het hy soos ’n ‘prop in ’n bottel’ vasgesit.
Die beton van dié deel van die toring is oopgekap, voordat die metaalomhulsel van een van die skoorstene uiters versigtig deurgesaag is.
Toe kon reddingswerkers binne-in klim om vir Morné binneaarse voeding te gee. Teen dié tyd was hy erg ontwater en het aan hipotermie gely.
Na ’n reddingspoging van byna vier ure lank, is Morné, uiteindelik, met applous van lede van die polisie, bevry.
Morné is met geringe beserings na die Paarl Hospitaal geneem vir behandeling.
’n Sestienjarige verdagte is op die toneel in hegtenis geneem vir ondervraging oor die aanval op Morné.
Die bestuurder van La Romantica, Renata Thiart, was hoogs ongelukkig oor die skade wat aan hul skoorsteen veroorsaak is, want hulle kon tot laatmiddag nie besigheid doen nie.
“Die straatkinders berokken vir ons baie skade, want hulle verdryf van ons kliënte weens hul onbeskofte gedrag.
“Kliënte is al met klippe gegooi, of hul motors word gekrap as daar nie geld aan hulle gegee word nie,” het Renata gesê.
“Ons sit met ons hande in ons hare en weet nie meer wat om te doen nie.”
Talle kliënte van winkels in dié omgewing kla oor die kinders wat staan en bedel en dan vir ’n mens beledig as hulle nie hul sin kry nie.
Die straatkind-kwessie is reeds jare lank ’n kwellende probleem in die Drakenstein-gebied.
Verskeie projekte is reeds geloods om te probeer omsien na die geskatte 300 straatkinders in dié gebied, maar elke dag word hulle steeds op straat gesien waar hulle bedel.
Die polisie en die Munisipaliteit beoog tans ’n projek om ’n veilige hawe vir die kinders te skep waar hulle aangespoor sal word om terug te keer na òf hul families òf na pleegouers. Hulle sal ook bygestaan word om terug te keer skool toe.
Die Munisipaliteit het ’n skeepshouer vir die projek geskenk. Nog ’n houer word gesoek wat gebruik sal word as ’n waskamer met toilette en storte.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat hulle reeds geweldige positiewe insette gekry het van die publiek wat wil help met die projek.
Daar word veral gesoek na vrywilligers wat opgelei sal word om vir die kinders te sorg. Skenkings van enige toerusting word ook verwelkom. “Ons is baie positief oor dié projek, maar daar is nog vele bruê wat oorgesteek moet word voordat dit bewaarheid word.” * A street child was rescued after spending hours trapped in a shaft behind a restaurant in Main Street, Paarl. He was treated for hypothermia and light injuries.
More
News
|