Boland Landbou soek sy interskole-titel terug
2006-08-10
DIE eerste rugbyspan van die Hoër Landbouskool Boland sal Saterdag weer hard baklei om hul interskole-titel van die Oakdalers terug te neem.
Boland Landbou het verlede jaar op Riversdal 8-6 verloor, ná ’n vloed van seges wat gestrek het van 1998 tot 2004.
Vanjaar word die wedstryd egter weer op Die Plaas in die Agter-Paarl beslis en Boland Landbou se jong kalwers sal beslis nie in hul eie kraal rondgejaag wil word nie.
Dié twee skole sal Saterdag in hul 20ste interskole-kragmeting gewikkel wees. Daar word verwag dat sowat 8000 ondersteuners sal opruk om weer die klipharde stryd te aanskou.
Boland Landbou se kaptein, CG Stoumann, is vol vertroue. “Ons hoop maar dit reën. Ons losvoorspelers - die flanke Burger Schoeman, Marnitz Jacobs en agsteman Morné Hanekom - is baie gevaarlik in die vastelos. ’n Nat veld sal dit moeilik maak om die bal wyd te vat, en dan kan ons voorspelers die ding voorlangs doen,” sê die haker.
Die veld is ’n bietjie uitgetrap na die onlangse swaar reënbuie en Boland Landbou se vernietigende 57-0 sege oor Hugenote wat Saterdag daar plaasgevind het.
Stoumann beaam egter dat kennis oor die tuisveld en die tuisskare ’n groot rol speel in ’n span se sukses op interskole-dag. Afrigter Frikkie van Zyl voeg egter by dat, hoewel die Boland Landbouers gretig sal wees om die titel weer in te palm, die manne van Oakdale net so honger sal wees om vir ’n paar jaar agtereenvolgend die interskole-kroon te dra.
Die eerste wedstryd begin om 08:30 met die voorstellingseremonie om 15:15 en die afskop van die hoofwedstryd wat om 15:30 volg.
Verskeie bekende rugbyspelers soos Hottie Louw, Deon Carstens, Willem de Waal, Derick Hougaard, Manie du Toit, José van Rensburg en Stefan Basson (almal Boland Landbou) asook Petri Wannenburg, Johan Muller, Gavin Hulme en Meyer Bosman (Oakdale) het in die verlede tydens dié interskole-wedstryde hul talent ten toon gestel.
More
News
|