New Orleans, Klein Nederburg pak mekaar in derby
2006-08-10
DIE Faurestraat-stadion sal Saterdag weer ’n byenes van opwinding wees wanneer die twee eerste rugbyspanne van Klein Nederburg en New Orleans Sekondêr teen mekaar kragte meet.
Kyk 'n mens op papier, dan slaan dit jou soos ’n slap snoek in die gesig dat Klein Nederburg nie ’n watwonderse rugbyjaar beleef het nie.
Die span kon dié seisoen nog net drie van sy nege wedstryde wen en mens wonder of hulle hond haaraf sal maak teen hul sterker derby-teenstanders.
New Orleans het aan die ander kant meer sukses behaal, met agt seges uit 14 kragmetings.
Maar die geskiedenis het geleer dat as dit kom by enige interskole-wedstryd, statistiek en bespiegeling net sowel op niks kan uitloop nie.
Albei spanne sit met ’n ligte pak voorspelers wat daarop kan dui dat dié faset van die spel gelykop sal verloop.
Oudergewoonte kan daar weer groot opwinding te wagte wees van die twee agterlyne.
Albei skole spog met ’n paar sneltreine en toeskouers kan uitsien na mooi hardloop-rugby as die weersomstandighede dit toelaat.
Die hoofwedstryd skop om 15:30 op Faurestraat-stadion af.
Sien die Paarl Post se Derby Bylae vir die volledige program en derbyspanne.
* Op Wellington meet Hugenote Hoërskool en Hoërskool Swartland in hul interskole-wedstryd kragte. Die hoofwedstryd skop om 13:15 op die Boland-stadion af.
More
News
|