Krampe kou atleet se ambisie
2006-08-10
HY het reg gelyk om ’n medalje te verower tydens vanjaar se Wêreld Duathlon Kampioenskap, maar Björn Alexander se planne is deur erge krampe in die wiele gery.
Alexander het uiteindelik 13de geëindig in die afdeling vir 20- tot 24-jarige atlete.
“Ek het na die eerste hardloopskof van 10km in die tweede posisie gelê,” vertel Alexander van sy stryd in Cornerbrook, Kanada.
Hy het egter na die eerste 5km van die 40km fietsry-skof ’n kramp in sy voet gekry.
“Dit was baie koud en dit het die heeltyd gereën. My voet het so begin kramp dat ek nie verder kon trap nie en ek moes dit van die pedaal afhaal.”
Alexander moes toekyk hoe die een deelnemer na die ander hom in sy lydende toestand verbysteek.
Tydens die laaste hardloopskof wat oor 5km gestrek het, het dinge net vir die jong Suid-Afrikaner vererger.
Die krampe het na sy bene versprei en hy moes noodgedwonge die laaste een en ’n halwe kilometer na die wenstreep stap.
Die Paarliet wat vir die Core Youth Experience jeuggroep hardloop, is nietemin baie trots op die 13de plek (uit 18 deelnemers) wat hy behaal het.
“Ek het gesien ek het die potensiaal om ’n medalje te wen en mik reeds om vir volgende jaar se Wêreld Kampioenskappe te kwalifiseer wat in Mei in Hongarye plaasvind,” vertel hy gretig.
Björn het vroeër tydens die WP Duathlon Kampioenskap vyfde geëindig nadat hy met ’n kniebesering gesukkel het.
Tydens die SA Kampioenskap het hy sewende geëindig.
“Ek het in Kanada egter baie van die SA-atlete geklop wat voor my klaargemaak het tydens die SA’s,” sê Björn.
* Nog ’n Paarliet wat vir die Wêreld Duathlon Kampioenskap gekwalifiseer het, Martie Stoumann, het nie na Kanada gereis nie, aangesien sy nie ’n borg kon kry nie.
More
News
|