Groot Gimmie-genot
2006-08-10
MENIGE Boishaaier se hart het Saterdag aan skerwe gelê nadat Paarl Gimnasium vir die derde agtereenvolgende jaar die interskole-wedstryd gewen het, dié keer 23-17.
Gimnasium was van die staanspoor af die gunsteling, maar die manne van Hoër Jongenskool verdien lof vir die karakter waarmee hulle gespeel het.
Dit was dan ook juis HJS wat eerste bloed geruik het, toe die skrumskakel, Alberto Gava, ná slegs twee minute met ’n strafdoel geslaag het.
Albei spanne het met losgemale en dryfspel probeer veld wen. Die poppe het egter begin dans toe Gimnasium die bal wyd gespeel het van ’n vaste skrum.
Die linkervleuel, Jacques Meyer, het ook sy pos verlaat om in die agterlyn in te kom, en die man-oor-situasie geskep wat Ralphton Minnaar (regtervleuel) in staat gestel om in die regterhoek oor te duik vir die eerste drie van die wedstryd.
Gim se skrumskakel, Dewaldt Duvenage, het met die moeilike doelskop geslaag.
Behoorlik aangevuur deur dié sukses het Gimnasium met hernieude ywer aangeval.
’n Skrum in die HJS-kwartgebied het weer vir Gim van ’n goeie aanvalsgeleentheid besorg.
Weer het Duvenage die agterlyn gevoer en toe die bal by Johann Sadie (binnesenter) uitkom, was die gaping daar.
Sadie het sy fop-aangee met oorgawe aan die Boishaaiers verkoop, en hy is deur ’n groot gaping om op skouspelagtige wyse naby die pale te druk.
Duvenage maak weer geen fout nie en die Gimmies loop 14-3 voor. Gimnasium se drieë het egter hierna opgedroog, met verskeie aanvalle wat op niks uitgeloop het nie.
Sadie het weer daarin geslaag om oor die doellyn te kom, maar hardnekkige verdediging het gesorg dat die bal uit sy hande spat. Duvenage het met nog twee strafdoel-pogings na die pale aangelê, maar kon nie die kol vind nie.
Boishaai het hierna so byna in die Gimmies se doelgebied gaan kuier.
’n Hoekskop is goed opgevolg en in die hande gekry deur die groot slot, Ya-Ya Hartzenberg.
’n Klappertand-laagvat deur Gim se Jacques Meyer het egter Hartzenberg teen die hoekvlag vasgedwing net voordat hy die bal kon druk.
HJS het die tweede helfte vuur en vlam begin en na ’n goeie teenaanval op Gim se doellyn geëindig. ’n Aanslaan het egter verhoed dat die Bloutruie ’n drie druk.
Gim het hierna weer die leisels bymekaar getrek en goeie spel gelewer, wat deur spoggerige hanteerwerk gekenmerk is.
Gim se harde werk is beloon met twee strafdoele om hul voorsprong na 20-3 te vergroot.
HJS was egter nie van plan om verder ’n slaansak te wees nie. Nadat ’n strafskop aan hulle toegeken word, skop hulle kantlyn toe. Ná die lynstaan in Gim se kwartgebied kry HJS ’n goeie dryf-maalbeweging aan die gang en die stut, Charles Marais, val oor vir die welverdiende drie.
Gava tref die kol om die telling 20-10 te maak.
HJS het kort daarna weer ’n geleentheid gehad om te druk toe die bal oor die Gimmies se doellyn geskop is, maar die slot, Jacobus Rossouw, kon betyds dooddruk voordat Gava sy hand op die bal kon lê.
Goeie gebiedsvoordeel het die losskakel, André Kemp, is staat gestel om ’n skepskop oor te klits wat Gim van ’n bykomende drie punte besorg het.
’n Tweede mislukte skepskop-poging deur die voorlopers, het Boishaai geleentheid gegee om weer in te skop.
Die HJS-ondersteuners het hierna hul keel hees geskree toe Hartzenberg die bal in die hande kry en langs die regterkant van die veld begin afnael.
Hartzenberg vind vir Callie Visagie wat ook sy lopie inkry voordat hy vir Kobus de Kock (vleuel) uitgee.
De Kock se ruimte het gou opgeraak en hy besluit om die bal lug te gee.
Toe was die jaagtog aan. Dit was egter De Kock se bene wat soos klitserlemme gemaal het, wat die bal eerste inhaal en kort voor die doodlyn dit toeval.
Die drie het reg voor die HJS se plaasvervangersbank plaasgevind en ondanks al die jolyt, was dit te min te laat.
Gava se suksesvolle doelskop is sekondes later deur die geskril van die eindfluitjie opgevolg.
More
News
|