Sakeman vry ná bedrogklag
2005-04-21
’n KRIMINELE saak teen die Paarlse sakeman Louis Geldenhuys is van die hofrol verwyder.
Geldenhuys is daarvan aangekla dat hy na bewering bedrog sou gepleeg het met betrekking tot borgaktes.
Die klaers in die saak teen Geldenhuys het borg geteken ten gunste van die destydse Boland Bank in ’n saketransaksie waar hulle en Geldenhuys saam in 1998 eiendom in Vredenburg gekoop het.
Die voormalige vennote is Willem Keuler van die Paarl en vyf ander uit Somerset-Wes, Grabouw en die Strand.
Tans is BoE Bank (nou Nedbank) besig om die borge elkeen siviel te dagvaar vir hul gedeelte van die skuld wat sowat R700 000 beloop. Dié keerdatum vir die eerste van hierdie sake is in Julie.
By navraag het Geldenhuys se prokureur, Francois Louw van Louw-Deysel Prokureurs gesê dat hulle nog altyd van die opinie was dat die saak nie in die kriminele hof hoort nie en dat die saak teen Geldenhuys kwaadwilliglik gelê is om so druk op hom te plaas om van die borge se skuld te betaal.
Die borg van R50 000 wat deur die Paarlse landdroshof aan Geldenhuys toegestaan is, is reeds terugbetaal aan die persoon wat dit namens hom betaal het.
Volgens Louw is ’n insolvensie-ondervraging teen Geldenhuys ook afgesluit nadat Geldenhuys met die hulp van ’n weldoener sekere eise kon ontmoet.
* Paarl businessman Louis Geldenhuys has been cleared of fraud charges.
More
News
|