Luister na kontreistories
2006-08-17
KONTREISTORIES is ’n skrywersprogram rondom kos, plekke en stories wat Saterdag om 09:30 by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl plaasvind.
Dié program sluit voorlesings deur Gideon Joubert, Willem Kotzé, Abraham Brink en Sussie Kotzé in, asook ’n sangoptrede deur Belia Lourens.
Abraham Brink kom van die plaas Drommelvlei naby Aurora in die Sandveld. Sy eerste boek, Rondom Soverby, is die verhaal van die vissersgemeenskap van Dwarskersbos en omgewing. Sy tweede boek, Trommelvlei, 'n versameling kontreistories uit die Sandveld, het verlede jaar verskyn.
Willem D Kotzé is in Namibië op die plaas Texas naby Pretorius, nou Leonardville, langs die Nossobrivier gebore. Hy het grootgeword op die plaas Wilheben naby Arahoab.
Hy en sy broer het vir vier jaar lank 16 myl heen en weer per dag op ’n donkie se rug skool toe gery. Sy eerste boek T’sats van die Kalahari, het in 1992 verskyn, waarna hy verskeie boeke oor dié streek die lig laat sien het. Sy jongste boek, Kalaharijoernaal, het verlede jaar verskyn.
Die see is net so deel van Sussie Kotzé (E Kotzé) as haar stories oor die see en die see se mense. In 1983 ontvang haar debuutbundel, Halfkrone vir die nagmaal, die Eugéne Marais-prys. Silt van die aarde (1986), Halwe hemel (1992), Waterwyfie en ander woestynverhale (1997) en Die slag van die breekbrander (2000) het gevolg.
Haar verhale is in ’n groot mate gegrond op verhale uit haar eie grootworddae op Doornbaai, ’n vissersdorpie aan die Weskus.
Gideon Joubert is gebore en het grootgeword op Stellenbosch. In sy lewe was hy al dekjonge op ’n seilskip, Gewone Seeman en Senior Gewone Seeman, asook een van die stigters van die Vlootgimnasium op Saldanha en die Vloottaalraad.
Kaartjies kan bespreek word by Natasha October by 872-3441. Besoek ook www.taalmuseum.co.za vir die volledige Afrikaansweekprogram.
More
News
|