Landlopers het laaste kans om Boland-keurders te beïndruk
2006-08-17
ATLETE wat nog vanjaar vir die SA Landloopkampioenskap wil kwalifiseer, sal Saterdag ’n laaste kans hê om die Boland-keurders te beïndruk.
Die SA Kampioenskap word op 9 September in Witbank gehou.
Die laaste kwalifiserende Boland landloopliga word Saterdag op Montagu gehou.
Die keurders sal die vertoning van die atlete in die 10km en 5km wedlope fyn dophou voordat ’n finale Boland-span gekies sal word vir die SA Kampioenskap.
Intussen het verskeie van Boland se top atlete Saterdag tydens die ‘Health and Fitness Mini-Marathon’ op Worcester en die Boland Skole Landloopkampioenskap in die Paarl tye gehardloop wat die keurders laat regop sit het.
Dit was veral die prestasies op Worcester wat die keurders behoorlik beïndruk het.
Piet Jacobs, Dicardo Jacobs en Cedric Arendse wat onderskeidelik eerste, tweede en derde was in die senior mansafdeling, het die 10km in minder as 31 minute afgelê.
In die junior mans-afdeling ook oor 10km was Henrico Rooi (Paarl Atletiekklub), Roger Davids en Rowan Prins die voorste drie atlete, met tye minder as 32 minute.
In die senior en junior vroue-afdelings is die deur nog wawyd oop vir atlete wat hier vir die SA byeenkoms wil kwalifiseer.
Boland Atletiek sal die SA Landloopkampioenskap gebruik om sy span voor te brei vir die Nedbank 10km Kampioenskap wat later vanjaar plaasvind.
Boland is vanjaar die gasheer van dié byeenkoms wat op 21 Oktober gehou word.
Atlete se vertonings in die Riebeek Kasteel 10km wedloop op 9 September sal ook in ag geneem word vir die kies van die span wat Boland by die Nedbank 10km Kampioenskap sal verteenwoordig.
Die Boland 10km-span sal reeds op 7 Oktober tydens die Caltex Voet van Afrika 10km wedloop as span deelneem teen die spanne van WP en SWD.
Die Voet van Afrika 10km wedloop sal die laaste oefenlopie vir die atlete wees, vóór die Nedbank 10km Kampioenskap.
More
News
|