Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Klein Nederburg verspeel derby-kanse

Klein Nederburg verspeel derby-kanse
 
2006-08-17


SPANNE wat nog nie weet hoe dit lyk om kanse te benut nie, moes Saterdag New Orleans se 7-5 derby-sege oor Klein Nederburg aanskou het.

Ten spyte van die twee spanne se seisoen-rekords wat New Orleans as die gunsteling aangedui het, was dit Klein Nederburg wat met al die skietgoed na die geveg gekom het.

Die KN-manne het van die begin af gebiedsvoordeel geniet en groot druk op hul teenstanders gesit. Daarby is die wedstryd teen ’n geweldige tempo gespeel met besit in die gebroke spel wat telkens blitsig omgekeer is.

Dit was juis Klein Nederburg se onvermoë om die bal in die kontak-situasie te behou wat hul spel van kontinuïteit ontneem het. In teenstelling daarmee het die voorspelers die vaste fasette totaal en al oorheers.

Klein Nederburg se slot, Ashville Williams, was ’n yster in die lynstane en het New Orleans se lynstaan-besit telkens afgeneem.

New Orleans se haker, Vernon Hart, het later mismoedig sy kop geskud wanneer daar aangetree is vir ’n lynstaan. Williams se 1,92m het voortdurend soos ’n donker wolk voor hom in die lynstaan
opgedoem en Hart se ingooie deurgaans weggeraap of só ontsier dat kwaliteitbesit nie ’n opsie was nie.

Die KN-pak het ook in die skrums en losgemale soos tiere vertoon en die NO-pak by tye meters ver agteruit gedryf. KN het dan ook verkies om met ’n optel-en-dryf spelpatroon veld te wen - ’n tegniek wat redelik goed vir hulle gewerk het.

Nietemin was NO rustyd 7-0 voor.

KN se agterlyn moet hier die skuld kry. Gebrekkige afronding en ’n mate van selfsugtige spel in die middeveld, het verhoed dat daar meer geleenthede geskep is by die punte.

NO se agterlyn, tydens die paar keer wat hy goeie balbesit gekry het, het egter baie skerp gelyk.

Dit was juis NO se veggees wat hul van ’n oorwinning verseker het.

Met soveel druk en min besit, het NO by tye net die bal ver veld op geskop om uit sy eie gebied te kom.

Halfpad deur die eerste helfte het NO se Dud-lee Jonathan (regtervleuel) amper in die regterkantse hoek gedruk. Hy het egter by die kantlyn uitgetrap en daar moes ingegooi word.

KN kon nie besit verseker nie en ná ’n losgemaal kry NO se kaptein en flank, Herschall Collins, die bal in die hande. Collins het die tien meter na die doellyn soos ’n weghol-stoomroller afgelê en oorgeduik vir die drie. Kurtley Davids het verdoel.

’n Kwartier ná die aanvang van die tweede helfte is NO tot 14 man verminder, toe die stut, Harold Stewart, met ’n geelkaart van die veld gestuur is.

KN skop die bal net buite NO se kwartgebied uit, wen besit en die voorspelers begin weer optel-en-dryf totdat Justin van Schoor (linkervleuel) oorval vir die vyf punte. Die doelskop deur Erwine Williams (plaasvervanger-losskakel) was mis.

KN kon in die laaste minuut nog die wedstryd wen danksy 'n strafskop. Williams kon egter nie die skop behaal nie.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za