Nagklub pla heelnag
2006-08-17
DAAR het onlangs ‘n klub in Lady Greystraat in die Paarl oopgemaak, op die hoek van Bredastraat. Ek woon in die woonstelblok oorkant die klub.
Hoewel die musiek in die nagklub self my glad nie pla nie, is dit ‘n onbeskryflike gemors wanneer die mense die plek verlaat.
Dis ‘n vieslike vloekery, skellery, musiekmakery in die voertuie, en sommiges kan skaars regop staan, maar klim nog agter die stuur in.
Hulle gebruik ook die straat as publieke toilet. Soms klink dit soos ‘n resiesbaan soos die mense daar wegtrek. En nou praat ek nie net van eenuur in die oggend nie. O nee, soms by vieruur se kant.
‘n Mens sou dink dit stop op ‘n Saterdagnag, maar nee, Sondagnagte gaan dit net so.
Dan ry van ons oulike polisie nog verby en doen niks. Hulle groet selfs, want dis hulle vriende.
Die polisie help ook nie veel nie. Van ons het al in die nag gebel, net sodat die mense tot ruste gebring kan word in die nag, maar ná drie weke het die polisie nog nie opgedaag nie.
Ons wil nou weet wat ons kan doen, wat ons regte is en wat omtrent hierdie situasie gedoen kan word. Tot watter tyd van die nag is dranklisensies geldig en wanneer moet die musiek stop?
Antoinette Engelbrecht
'n Polisiewoordvoerder reageer: Dié klub het 'n lisensie om tot 04:00 oop te bly. Daar sál aan formele klagtes aandag geskenk word.
More
News
|