Hierdie stilhouplek is 'n plek van onheil
2006-08-17
OUERS weet julle waar jou jong seun of jong dogter oor naweke is en weet jy wat hulle in hul vrye tyd doen?
Wel, Saterdag 12 Augustus weet ek waar jou seun en dogter was, en ja, ek weet wat hulle gedoen het.
Ek is ‘n inwoner in die Bolandpark-area langs die krieketveld, die “Nuwe Arboretum” waar jongmense uithang.
Ek weet daar is nie juis geriewe waar ons jongmense kan gaan vir ontspanning nie, maar hierdie mense het geen respek vir hulself, vir hul vriende en die mense in die buurt nie.
Hierdie naweek en soos al die vorige naweke, het die jongmense weer daar kom “park”. In die middag is dit altyd stil en stemmig, maar sodra die drank begin trek, begin die musiek harder speel.
Die een se musiek moet harder wees as die ander en die motors word “gespin” dat die rook staan.
In die buurt is daar mense wat babas en klein kinders het. As hulle die jongmense gaan stil maak (dan praat ek van ná tien tot so middernag die aand) word hulle uitgevloek.
Saterdag 12 Augustus was dit weer stampvol in die “Nuwe Arboretum”.
Drank het vrylik geloop, kiste bier het oral gestaan.
‘n Klomp jong seuns het begin stry en daar het ‘n bakleiery uitgebreek. Hulle het mekaar met die vuis bygedam, maar dit het my nie geskok nie, wat my wel geskok het, was dat ‘n jong meisie een van die leë bottels bier geneem het, dit stukkend gekap het en die stukkende bottelkop vir haar vriend gegee het.
Nou vra ek myself af, as daardie seun nou in sy woedebui die ander een gesteek het, dalk noodlottig, wie sou die blaam gekry het, sy of hy?
Ek het besluit om hierdie komende Saterdag gereed te staan met my kamera en sal elke nommerplaat afneem, veral dié wat so hul motors spin, elke jong meisie en seun wat hulle nie gedra nie.
Ek is nou moeg daarvoor om vir my kind van sewe te sę, nee poplap, ons kan nie met ons honde gaan stap nie.
Hoe moet ek vir haar verduidelik van die gebruikte kondome en stukkende bierbottels wat oral rondlę?
Ook ‘n ouer
More
News
|