Kompleks op Wellington kry nou nuwe naam
2006-08-17
‘n Versoek verlede jaar deur Wellingtonners vir ‘n alternatiewe naam vir die sogenaamde “The Fountain” ontwikkeling in Fonteinstraat, het onlangs gelei tot die herdoping van die woonstelgebou en kleinskaalse kommersiële ruimtes na “De Fonteine”.
Daar was skynbare teenkanting teen die verengelsing van die naam omdat daar beweer is dat geen inwoner ooit van “Fountain Street” praat nie, maar net daarna verwys as Fonteinstraat.
‘n Versoek vir alternatiewe name deur die Wellington Erfenis- en Omgewingskomitee is positief deur die ontwikkelaars begroet, wat Wellingtonners verlede jaar uitgenooi het om alternatiewe name voor te stel.
Inwoners het flink gereageer en die komitee het ‘n mooi klompie name ontvang met interessante agtergronds- en geskiedkundige inligting daarby.
Alhoewel die ontwikkelaar nie een van die voorstelle gebruik het nie, is die nuwe naam De Fonteine sekerlik daardeur geďnspireer, sę die Erfenis- en Omgewingskomitee.
Onder die voorstelle was Brickfields deur Pierre Koegelenberg, wat die eertydse naam van die nabygeleë Victoria Park-perseel was.
Pierre het ook Val de Charron (vir Wamakersvallei) en oorspronklike plaasname soos Olyvenbosch, Onverwacht, Rheebokskloof, Welbedacht, Welgegund wat in die wateropvangsgebied van Fonteinstraat geleë is, voorgestel.
De Oewer is ingestuur deur Dalene Watts. Haar motivering was dat “wanneer ‘n plek of gebou naby ‘n fontein, rivier, meer of lagune geleë is, praat ons van ‘geleë op die oewer’ van...”
JR Hugo het De Groeneberg voorgestel na aanleiding van Groenberg, asook De La Fontaine, na aanleiding van die naam van ‘n gewilde VOC amptenaar van die 1700’s wat onder meer goewerneur aan die Kaap was.
Vele Fonteine was Charl Tomlinson se voorstel na aanleiding van die baie fonteine wat van die vlei in die Perdeskoen tot onder by die geboue van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie voorkom.
Die Erfenis- en Omgewingskomitee het inwoners uitgenooi om op te let hoe goed die kompleks inskakel by die fasades van die ou Fonteinstraat-geboutjies en die twee huise in Malherbestraat wat tydens die bouwerk behoue gebly het.
“Mens ys as jy dink dat alles platgevee kon gewees het en net ‘n groot, onpersoonlike vierkantige blok nou daar kon gestaan het,” het Charl Tomlinson van die Komitee gesę.
“Die ontwikkelaar kry ‘n klop op die skouer vir sy bereidwilligheid om die ou straatfronte te behou, en ‘n pluimpie vir sy samewerking in die soek na ‘n meer gepaste naam.”
More
News
|