Dit was 'n bestiering
2005-04-21
Malané Bosman
DIE “hand van God” het Saterdag die bestuurder van ’n reuse-trok gelei, uit die pad van ’n minibus wat voor hom op die N1 buite die Paarl aangerol gekom het, te swenk.
“Mense sal dink dis instink,” het Freddie Jaftha (55) van Annie Benjaminstraat gesê.
“Dalk is hulle reg. Ek was immers 33 jaar op die langpad en daar leer mens baie.
“Maar Saterdag was dit ’n wonderwerk. Eintlik moes ek oor die bussie gehardloop het, en dan was almal dood. Maar ons lewe onder die hand van God.”
Jaftha was die oggend met sy nuwe Freightline trok, die voorhaker sonder treiler, weswaarts op die snelweg onderweg toe hy die minibus voor hom deur die selonsrose in die middel sien bars het.
“Toe sien ek hier kom die bussie aangerol oor die middelmannetjie na my ryvlak. Ek moes vinnig besluit, en God het my die nodige verstand gegee om regs te swenk.”
Jaftha was met twee wiele op die gras in die middel toe die bussie se agterkant teen sy passasierstrappie bots en verder rol. Terwyl Jaftha die vragmotor weer veilig tot op die teer kon bring, het die minibus ná vyf keer se rol, op sy dak tot stilstand gekom.
Drie van die nege insittendes wat uit Kaapstad onderweg was na Worcester, is met ligte beserings na die Paarl Hospitaal geneem.
Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor toe ’n agterband gebars het. Die bussie is ’n wrak, en die skade aan die trappie van die vragmotor beloop byna R2 000.
“Elke oggend as ek my voete van die bed af sit, dan bid ek. En dan sê ek ook baie dankie dat Hy sy hand oor my hou,” sê Japtha.
* An experienced Paarl truck driver managed to swerve in time to save the lives of minibus occupants.
More
News
|