Kind se lyk In Bergrivier gevind
2006-08-24
DIE liggaam van 'n dogtertjie is in die Bergrivier naby Wellington gevind, meer as ’n maand na haar verdwyning. Dit was presies ’n week voor haar sewende verjaarsdag.
Bellique Benjamin het in die rivier geval toe sy en haar broer, Virgil (10), langs die oewer gespeel het tydens die skoolvakansie.
Virgil moes hulpeloos toekyk hoe sy sussie onder die donker water verdwyn.
’n Intensiewe soektog is na Bellique se liggaam geloods, maar sonder sukses.
Vir Bellique se familie was dit ’n nagmerrie, aangesien hulle nie tot ruste kon kom totdat hulle vir hul lieflingskind ’n begrafnis kon gee nie.
Verlede Vrydagoggend het twee seuns op Modesta-plaas, ongeveer 20km stroom-af van waar Bellique verdrink het, langs die oewers van die rivier geloop, toe hulle iets tussen die opdrifsels gewaar het. Hulle het eers gedink dat dit ’n pop is, maar vasgestel dat dit die liggaam van ’n kind is.
Die polisieduikers is ingeroep en die liggaam is verwyder. Bellique het steeds haar swemklere aangehad waarmee sy op die tragiese dag verdwyn het.
Bellique se ma, Caroline, het gesê dat alhoewel hulle baie hartseer is dat hulle nou finaal moet aanvaar dat Bellique nooit weer huis toe kom nie, bring die feit dat hulle uiteindelik haar liggaam gevind het, berusting.
Die begrafnis vind Sondag om 12:00 plaas vanuit Drakensbergstraat 24, Egoli, en dan om 13:00 by die Breakthrough Kerk in die Paarl. * The body of a girl (6) who drowned in the Berg River a month ago, was found 20km downstream.
More
News
|