Mans gevang met kragkabels
2006-08-24
TWEE mans is verlede week op heterdaad betrap terwyl hulle besig was om gesteelde elektriese kabels te brand om die plastiek-omhulsel te verwyder.
Daar is die afgelope tyd meer as R15 000 se elektriese kabels gebuit in Klein Drakenstein en Daljosafat.
Talle plase in dié gebied, soos Schoongezicht, Hochheim, Valencia en Buffet Olives, asook verskeie woonbuurte, is al vir dae lank lam gelê weens kragonderbrekings na kabeldiefstalle.
Tydens ’n roetine-patrollie deur lede van die Paarl polisie het beamptes verdagte bollings rook gesien, ondersoek ingestel en op twee mans afgekom wat besig was om drade te brand.
Wanneer die elektriese drade skoon gebrand is, word dit dan fyngekap en aan skrootbesighede verkoop.
Die verkopers moet hul identiteitsdokumente aan die besighede toon, maar ’n woordvoerder van die polisie het gesê dat dikwels word dié prosedure nie gevolg nie.
Skrootbesighede moet ook enige verdagte materiaal aan die owerhede rapporteer.
Tans verdien kabeldiewe tot R40 vir ’n kilogram metaal.
Kerneels en Jerome Pietersen van die Schoongezicht informele woongebied in Daljosafat is in hegtenis geneem in verband met die voorval.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat die saak by die Landdroshof weens ’n tegniese punt teruggetrek is, maar hulle is steeds vasberade om alle leidrade op te volg en die skuldiges vas te trek en te vervolg.
* Two men were caught red-handed chopping up electricity cables for scrap.
More
News
|