Drakenstein dalk ingelyf by Kaapstad
2006-08-24
INWONERS van Drakenstein is erg bekommerd oor die Munisipale Afbakeningsraad se voorstel om Drakenstein en Stellenbosch by die Kaapse Metropool in te sluit.
“Die impak van hierdie versoek op al die munisipaliteite sal deeglik oorweeg moet word,” lui die advertensie.
Sou die aansoek goedgekeur word, sal die Kaapse Metropool se jurisdiksie strek tot by die landelike Saron, Hermon en Franschhoek.
Inwoners vrees dat dieselfde ontwrigting van munisipale funksies soos ervaar is met die amalgamasie van Paarl en Wellington die afgelope vyf jaar, voortgesit sal word indien hierdie voorstel goedgekeur word.
Volgens Richard Dyanti, Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering en Behuising, is die voorstel die eerste keer geopper deur ’n oud-inwoner van Mbekweni, Sandile Sinzane, wat glo deesdae in Pretoria woon.
Volgens Dyantyi is Sinzane se voorstel voorverlede jaar op die lange baan geskuif in die lig van die naderende plaaslike verkiesing.
Dié voorstel word nou deur die Afbakeningsraad oorweeg met die oog op die vasstelling van nuwe munisipale grense betyds vir die plaaslike verkiesing in 2011.
Tans regeer die DA en sy vennote die Kaapse Metropool se 3,2 miljoen inwoners met ’n meerderheid van slegs twee setels, terwyl die DA op Stellenbosch ’n meerderheid van een setel het. In Drakenstein het die ANC en sy vennote egter ’n meerderheid van elf. Volgens Helen Zille, burgemeester van Kaapstad, skuil daar moontlik ’n politieke motief agter die onverwagte aankondiging.
“Kaapstad is reeds genoeg om te regeer - dis hoekom ons 21 subrade het. ’n Mens wonder oor die motief vir die voorstel,” het Zille aan ’n Sondagkoerant gesê.
Zille is ook bekommerd oor die kort periode van 30 dae vir kommentaar. Sy wil met Dyantyi vergader om dié kwessie te bespreek.
Drakenstein burgemeester Charmaine Manuel wou nie ’n opinie uitspreek nie, behalwe om te sê dat ’n mens nie graag Drakenstein se eie landelike aard sou wou verloor nie.
“Die belangrikste is dat die wil van die bevolking getoets moet word voordat ons ’n besluit neem,” het sy gesê.
“Dit is ook belangrik dat ons die motivering vir die voorstel weet voordat ons reageer.”
Die saak sal aanstaande week deur die Drakenstein Munisipale Raad bespreek word.
Die leier van die DA in die Raad, Koos Louw, sê: “Ons sal objektief moet kyk na die voorstelle en besluit of dit ’n verbetering is.
“Maar ek is bekommerd oor die logistieke probleme met ’n Munisipaliteit waar die hoofkantoor so ver van die inwoners geleë is. “Dienslewering gaan beslis in die gedrang kom indien hierdie voorstel uitgevoer word.”
Kommentaar moet die Afbakeningsraad voor 20 September bereik by Privaatsak X28, Hatfield 0028, Faks (012) 342-2480 of robert@demarcation.co.za.
* Residents of Drakenstein were shocked by an advertisement of the Demarcation Board in the Sunday newspapers, proposing that the municipal area be incorporated into the Metropole, along with Stellenbosch and Franschhoek.
More
News
|